Suid-Afrika is steeds die ongelykste land in die wêreld, sê Aggy Moiloa, adjunkdirekteur-generaal vir inspeksie en wetstoepassingsdienste by die departement van indiensneming en arbeid.
’n Hele 24 jaar nadat die Wet op Gelyke Indiensneming in 1998 van krag geword het, voldoen nog net 6% van werkgewers ten volle aan die vereistes van die wet, blyk dit uit opmerkings wat Moiloa gemaak het by ’n ontbytgeleentheid Vrydag in Sandton.
Dit is op grond van 860 inspeksies oor gelyke indiensneming wat die departement van April tot Desember verlede jaar landwyd uitgevoer het. Slegs 12 werkgewers het voldoen aan die wetsvereistes en 848 het nie voldoen nie.