Markus Jooste se rojale leefstyl en die feit dat hy maatskappygeld soos confetti rondgestrooi het, was van die redes waarom Whitey Basson in 2016 lugtig was om die verkryging van Shoprite deur Steinhoff te steun.
Dié plan van Christo Wiese dat die Shoprite-groep, soos Pepkor, deel word van Steinhoff in ruil vir Steinhoff-aandele het byna die 50 jaar lange vriendskap en sakevennootskap tussen Basson en Wiese laat skipbreuk ly. Wiese is met ’n belang van 10,5% steeds die grootste individuele aandeelhouer in Shoprite.
Basson (76) het Maandag in ’n gesprek met Esmaré Weideman, voormalige uitvoerende hoof van Media24, op die Woordfees in Stellenbosch openlik oor dié hoofstuk van sy loopbaan gepraat.