Dit is baie sorgwekkend dat Suid-Afrika tot sy slegste posisie nóg op die Fraser-instituut se indeks van die aantreklikheid van mynboubeleggings geval het, het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag erken.
“Ons verstaan baie duidelik dat die probleme en regulatoriese haakplekke reggestel moet word. Ons moet ’n moderne en veel meer doeltreffende kadasterstelsel instel.” Die kadasterstelsel is ’n register van wie eksplorasie- of mineraalregte op ’n stuk grond het.
“Die spoorlyne wat verval en die hawens wat nie op die nodige vlakke funksioneer nie, tesame met die gebrek aan betroubare kraglewering, moet aangepak word,” het Ramaphosa op die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê.