Suid-Afrikaanse mynhuise se stewige bydrae tot die land se staatskas sal vanjaar waarskynlik heelwat minder wees as die R92 miljard van verlede jaar, sê kenners.
Een van die redes is dat die nasionale tesourie maatskappybelasting van 28% tot 27% verlaag het en tweedens omdat die probleme met spoorvervoer en die knelpunte by hawens so erg is dat mynhuise se uitvoervolumes aan die afneem is.
Die elektrisiteitstekort is ook ’n remskoen, terwyl die gesloer met die toestaan van lisensies, die gebrek aan ’n kadasterstelsel en hoë beveiligingskoste beleggers afskrik.