Ná langer as 20 jaar is Apple klaar met die iPod.
Luidens sy blog gaan Apple die huidige iPod Touch verkoop totdat daar nie meer eenhede beskikbaar is nie, maar daarna is dit klaar.
Baie water het in die see geloop sedert die iPod nuwe lewe in die Apple-handelsnaam geblaas het deur aan mense ’n toestel te gee waarmee hulle ’n hele musiekversameling in hul sak kon saamdra. Apple sê mense het deesdae op amper al sy produkte toegang tot hul musiekbiblioteek.
“Musiek was nog altyd deel van ons kern by Apple. Die manier waarop die iPod dit na honderdmiljoene gebruikers geneem het, het meer as net die musiekbedryf beïnvloed; dit het ook herdefinieer hoe musiek ontdek, na geluister en gedeel word,” sê Greg Joswiak, Apple se senior visepresident van wêreldwye bemarking.
Die iPod was ’n reusesukses, maar sy uitvinder, Tony Fadell, vertel dit was nie ’n uitgemaakte saak nie.
Fadell het in ’n onderhoud met die tegnologie-webwerf Cnet gesê hy was baie onseker of hy Apple se aanbod moes aanvaar toe hy gevra is om na die maatskappy te skuif. Dit was in 2001 nie so ’n maklike besluit om by Apple aan te sluit soos wat dit vandag is nie, sê hy.