Dis redelik welvarende, en grotendeels ingeligte, mense wat ’n Swatch-horlosie of ’n Apple Watch-slimhorlosie kan koop, en hulle sal nie sommer die twee handelsname verwar nie – selfs al noem Apple sy slimhorlosie die iWatch.
Só het die appèlhof in Bloemfontein onlangs bevind in ’n saak wat Swatch in Suid-Afrika aanhangig gemaak het om te probeer keer dat Apple die woord iWatch as handelsmerk registreer.
Dis deel van ’n wêreldwye stryd wat Apple al voer sedert hy sy slimhorlosie in 2015 bekend gestel het. Hoewel almal verwag het dit gaan die iWatch heet, moes Apple met Watch gaan omdat iWatch in verskeie lande, onder meer in China, reeds as ’n handelsmerk geregistreer was.