MTN gaan ook nou Covid-19-inentings vir sy werknemers verpligtend maak.
Die maatskappy sê dit word gedoen om die gesondheid en veiligheid van sy werknemers te beskerm. Die verpligting word in Januarie aanstaande jaar van krag.
“Die wetenskap is duidelik. Inenting teen Covid-19 verminder die getal ernstige infeksies, hospitalisasie en dood. As ’n werkgewer het ons ’n verantwoordelikheid om te verseker dat ons werkplekke voldoen aan die hoogste standaarde van gesondheid en veiligheid en het ons besluit om Covid-19-inenting verpligtend vir ons personeel te maak,” sê Ralph Mupita, MTN se president en uitvoerende hoof.