Beste EFF-kandidaat, jy is geen verraaier, maar . . .

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Frederik van DykFoto: Verskaf
Frederik van DykFoto: Verskaf

Op Netwerk24 verskyn ’n artikel oor jou, Jesse Griessel, ’n wit SR-kandidaat en student aan die Universiteit Kaapstad. Jy staan as EFF-kandidaat, kompleet in rooi met jou vuis gebal.

Hiervoor, vertel jy, word jy as wit vrou verguis. Witmense, talle Afrikaans, noem jou ’n klomp nare dinge. Jy vertel hoe jy as verraaier van die wittes uitgekryt word, bloot omdat jy vir sekere idees staan en jou tot politieke praktyk wend wat vir hulle ontnugterend is.

Jou strydgenote tree vir jou in die bres: Hulle is toonbeelde van white fragility; wit broosheid, hierdie skeltonge. Hulle voel verskrik en selfbewus in hul witheid, want hulle kan dit nie kleinkry nie dat “een van hul eie” met idees sou heul wat hulle as “anti-wit” interpreteer nie.

Jy is heeltemal reg om die verraaier-beskuldiging te verwerp, Jess. Jy is dalk selfs reg in jou diagnose oor wit broosheid. Talle van jou kritici is mense wat die ideologie van wit meerderwaardigheid, hetsy op grond van biologiese velkleur of 'n kulturele meerderwaardigheidsgevoel geïnternaliseer het. Hulle besef hardkoppig nie dat die vrugte van jare se wit bevoorregting dalk bepalend tot hul welvaart, sukses en relatiewe gemak kan wees nie.

Jy is geen volksverraaier nie, Jess.

Dit sou 'n oppervlakkige aanname wees; 'n gevolgtrekking gemaak op wankelrige afleiding. Selfs al is jy van Afrikaner-afkoms, is jou “verraaierskap” nonsens: Wit Suid-Afrikaners, ook Afrikaners, is nog altyd polities uiteenlopend.

Geskiedkundiges soos Albert Blake vertel hoe dit nie vreemd was om in die Kaapkolonie van die Boereoorlog-tydperk, Afrikanerhuishoudings te vind waar koningin Victoria se portret in die voorhuis gehang het nie. Tydens die Boereoorlog self was daar Afrikaners wat openlik die Britse oorlogspoging gesteun of teen die Boere geveg het. Op die pad na Stilbaai vind jy 'n gedenkteken vir die mees suidelike veldslag in die Boereoorlog; die leier van die Engelse peloton, verneem ’n mens op die monumentgeskrif, was 'n offisier met die van Smalberger.

Jy is geen 'ras'-verraaier nie, Jess.

Selfs voor apartheid is Jan Smuts en Louis Botha se beleid jeens Engeland as “verraad” beskou. En adv. Bram Fischer, uit 'n vooraanstaande Vrystaatse Afrikanerfamilie, was 'n Kommunis en vryheidsvegter wat in sy verset teen apartheid gesterf het.

Konserwatiewer politiek het nie 'n alleenreg op Afrikanerwees nie. Politieke uiteenlopendheid is beter vir Afrikaanse identiteit as politieke benepenheid.

Jy is geen “ras”-verraaier nie, Jess.

Die kritiese ideologiekritiek wat jy en jou kamerade skynbaar aanhang, gegrond op die vaktaal wat in die Netwerk24-artikel voorkom, het juis as uitgangspunt dat ras en rassigheid sosiale skeppings is.

Witheid en swartheid is skeppings om 'n maatskaplike hiërargie daar te stel op grond van iets so onbepalend as velkleur. 'n Mens se biologiese fenotipe behoort geensins jou regte en die staat se gedrag teenoor jou te bepaal nie. Mense wat raas dat jy jou “ras” verraai, is dus duidelik vasgevang in die nare net van geskiedkundige rassigheid en rassisme. Hulle is nie bereid om in te sien dat 'n toekomsstrewe, waar ras nie meer ongelykheid help bepaal en voortsit nie, dalk geldig kan wees nie.

Jesse Griessel Foto: Facebook
Jesse Griessel Foto: Facebook

Jy staan vir sekere idees, Jess, en jou kritici het dalk baie waaroor hulle met jou sal saamstem: Dat ongelykheid weens rasredes uitgewis moet word, dat welvaart meer mense moet toekom en dat rassevooroordeel in ons samelewing moet uitfaseer. Hoe die doelwitte bereik word en wat die beste beleid is, is waaroor daar gedebatteer en vurig verskil kan word, maar dit regverdig nie hoe jy hanteer is nie.

Jy sien, om idees soos joune te koester, is iets waarvoor jou grondwetlike vryhede van uitdrukking en van assosiasie die geskel behoort te oordonder. Niemand se ontevredenheid oor jou wit vel in die rooi uniform en lippe wat rooi idees preek, behoort jou vryhede in hierdie verband in te doen nie.

As dit egter net so maklik was. As jou SR-kandidaatskap namens die EFF by jou oorgelewerde idees kon stop, Jess. Maar dit doen nie.

Idees is een ding, maar die planke van die platform waarop 'n mens jou idees uitoefen, is dalk hopeloos verrot.

Die groep wat jy as platform gebruik, Jess, is geen politieke party nie. Die EFF is 'n sameflansing van leiersfigure wat reeds bewys het dat hulle die armstes sal besteel en hul tot geweld en intimidasie wend om mag en hulpbronne na hulself te kanaliseer.

Die EFF, soos die regerende party, is na regte eerder 'n misdaadkartel wat wegkom weens die alomteenwoordige, sagte vooroordeel van mindere verwagtinge: Die vooroordeel dat swart politieke leiers wat radikale maatskaplike verandering as politieke fasade voorhou, nie in staat is tot boosheid nie.

Die swaard van vervolging hang oor die koppe van Julius Malema en die broers Shivambu. . .

As jy hierdie dinge nie weet nie, Jess, gaan lees gerus Pauli van Wyk se uitstekende joernalistiek op Daily Maverick. In ? reeks artikels het sy en Scorpio, die span ondersoekende joernaliste van DM, met vers en kapittel bewys hoe die EFF van ons land se armste swartmense in die VBS-bankskandaal nóg verder en vernederend verarm het.

Die swaard van vervolging hang oor die koppe van Julius Malema en die broers Shivambu, lynreg met die maatskaplike politiek wat hulle predik. Malema self moet ook nog verantwoording doen oor die On Point Engineering-skandaal, 'n tenderbedrogspul wat beteken dat hy in dieselfde liga speel as van die voorste ANC-skelms.

Die groep wat jou as kandidaat voorstoot, Jess, het leiers wat in absolute beheer van hul mishoop staan met talle strafregtelike klagte teen hulle. Dit sluit in die vuur van geweerskote in openbare gebiede, die straffelose plundering van winkels en die aanranding van 'n polisieoffisier wat op kamera vasgevang is.

In 'n omgewing waar misdaad teen landbouers ons land en ons mense ernstige seer en skade berokken, sing jou leiers liedere wat reeds in die laat-2000’s as haatspraak bevind is.

Jess, jy is geen verraaier nie. Jy verraai geen volk of ras nie. Maar jou kandidaatskap is juis iets wat morele agentskap vereis omdat dit 'n openbare amp aan 'n openbare universiteit is.

Jy is nie 'n verraaier nie. Maar solank jy en jou kamerade die EFF se saak versterk en hul platform gebruik, is julle moreel daaraan aandadig om 'n haat- en misdaadkartel wat as politieke party paradeer, te onderhou.

En daarvoor kan Suid-Afrikaners van alle herkomste jou sonder skroom veroordeel.

  • Frederik van Dyk is ’n LLM kandidaat en navorsingsassistent aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit regsgeleerdheid.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy weet nie hoe dit werk nie? Kyk hierdie video:


besig om te laai... Regstreeks
South Africa A 297/10 & 116/5
India A 276/10
besig om te laai... Regstreeks
Sri Lanka 204/10 & 345/9
West Indies 253/10 & 77/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.98
-0.3%
Rand - Pond
21.22
-0.1%
Rand - Euro
18.03
-0.2%
Rand - Aus dollar
11.29
+0.1%
Rand - Jen
0.14
-0.2%
Goud
1,771.77
+0.2%
Silwer
22.37
-0.1%
Palladium
1,799.25
+0.8%
Platinum
946.50
+0.6%
Brent-ruolie
69.67
+1.2%
Top-40
64,807
+0.4%
Alle aandele
71,282
+0.4%
Hulpbronne 10
68,080
+0.8%
Industriële 25
93,663
-0.0%
Finansiële 15
13,994
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos