Depressie: Wat vir my gewerk het

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Thea Visagie
Thea Visagie

Depressie kan jou vinnig laat voel asof jy in ’n diep en donker gat vassit. Bygesê, ’n mens hoef nie depressief verklaar te word om soms deur ’n donker dal te stap nie.

Hoewel ek geensins in ’n posisie is om mediese raad te gee nie, deel ek graag ’n spens vol planne van my en ’n paar klasmaats as die lewe ons begin oorweldig.

Let wel, hierdie wenke is bloot persoonlike ervarings. Dit is nie mediese inligting nie. Raadpleeg eerder ’n sielkundige of psigiater as jou probleme ernstiger voel as bloot ’n “af dag”.

Begin klein

In die donkerste tye kan dit moeilik wees om soggens op te staan. Dit is wanneer dit belangrik is om met klein goedjies te begin. Staan op en gaan stort, trek skoon klere aan en maak jou gordyne oop dat jy nie vasgevang word in die donker van jou kamer of woonstel nie. Al is dit al wat jy vir die dag doen, wees trots op jouself. Die volgende dag kan jy ’n klein takie soos jou bed opmaak byvoeg.

Wees geduldig met jouself. Dit help nie jy verwyt jouself nie. Uiteindelik is dit die klein oorwinnings wat die meeste beteken.

Roetine

Vir studente is dit moeilik om in ’n roetine te bly. Tussen swottings, werk, in kontak met vriende probeer bly en jouself aan die lewe hou, kan jy jouself vinnig verloor en jou begin afskeep.

Dit is dus baie belangrik dat jy ’n vaste roetine in jou lewe kry.

Probeer elke aand betyds in die bed kom en elke oggend op ’n bepaalde tyd opstaan.

Beplan jou maaltye en jou studietye.

Onthou wel om altyd in jou roetine tyd te maak vir jouself om te ontspan en kop skoon te maak.

Raak kreatief

Om kreatief te wees is vir my een van die beste maniere om uit ’n donker gat te kom. Die bevrediging van ’n taak begin en voltooi gee jou die hupstoot wat jy so nodig het.

Om kreatief te wees kan baie vorme aanneem en daar is iets vir almal. Van inkleur en teken tot musiek maak en skryf. Vat ’n pen en skribbel jou gevoelens op ’n stuk papier in die vorm van prente of woorde, maak nie saak hoe min dit sin maak of hoe sleg jy dink dit lyk nie, dit is ’n meesterstuk.

Rou emosies maak die mooiste kuns. Jy ontdek dalk net ’n talent wat jy nie geweet het jy het nie.

Raak aktief

Vir baie studente is oefening die perfekte ontsnapping. Oefening stel endorfiene in die liggaam vry wat jou persepsie van pyn verminder en dieselfde uitwerking as morfien op die brein het.

Daarby verbeter oefening op lang termyn jou selfbeeld en begin jy beter oor jouself voel.

Ek haal my hoed af vir enige iemand wat oefen wanneer hulle depressief is.

Hou dagboek

Ek dink baie studente dink aan ’n tienermeisie wat op haar bed lê met haar voete in die lug en skryf oor haar jongste liefdesekspedisies. Maar om dagboek te hou kan baie terapeuties wees.

Die neerskryf van jou emosies help jou brein om sin daaruit te maak. Dit dwing jou om gedagtes en herinneringe wat jy probeer onderdruk, in die oë te kyk en vrede te maak daarmee.

Geloof

Baie studente vind vrede in hul geloof.

Baie gelowe bied ondersteuningsgroepe en geloofsbeoefening kan jou groter duidelikheid gee oor hoe om sekere probleme te benader en te oorkom.

Deur na jou plek van aanbidding te gaan kan jy ook in kontak kom met mense wat dieselfde waardes en geloofstelsel as jy het.

Bring lewe in jou woonstel/kamer

Wanneer ’n mens vasgevang voel tussen die vier mure van jou kamer of woonstel, kan ’n vorm van lewe jou help om uit die donkerte te kom.

Dit kan ’n hond, kat, hamster, goudvissie of selfs ’n plant wees.

Net die idee dat daar iets in jou woonstel is wat van jou afhanklik is en waarna jy moet omsien, gee jou die krag om soggens op te staan.

Laaste roep is ’n vetplantjie. Hulle gaan nie maklik dood nie.

Mediteer

Meditasie is om te gaan sit, jou oë toe en jou kop skoon te maak.

Hiermee saam fokus jy op jou asemhaling en jy kan positiewe stellings in jou gedagtes herhaal.

Meditasie kan help om jou terug te bring aarde toe en jou laat besef wat binne jou beheer is. Dit werk ook baie goed wanneer ’n mens oorweldig voel en jy ’n oomblik nodig het om aan jouself te dink.

Musiek

Musiek het ’n manier om met jou emosies te praat en te genees. Die musiek waarna mense luister wanneer hulle deur ’n depressiewe episode gaan, verskil van persoon tot persoon.

Party luister na hartseer musiek wat aansluit by hul gevoelens en waardeur hulle op daardie oomblik gaan.

Vir my is daar niks beter as die Goue Oues om my gemoed dadelik te lig nie. “Living Next Door to Alice” van Smokie en “Thunderstruck” van AC/DC sal altyd treffers wees.

Kyk ’n troosreeks/-fliek

Die menslike brein is ’n vreemde ding. Wanneer ’n mens reeds depressief voel, wil jy gemaklik wees en daar is niks wat jou gemakliker maak as ’n fliek of TV-reeks waarna jy al vele kere gekyk het nie.

Jy weet wat om te verwag. Daar is niks wat jou onkant kan vang nie. Oor die algemeen kan ’n goeie komedie jou gemoedstoestand enige tyd verbeter.

Bestee tyd met vriende

Hoewel die meeste mense met depressie verkies om alleen te wees, is dit nie altyd ideaal nie.

Gee jouself tyd om alles te verwerk en te beplan hoe jy kan aangaan, maar moenie jou vriende verstoot nie. Dit is waar dat jou vriende nie altyd verstaan waardeur jy gaan nie, maar iemand om mee te praat wat jou nie oordeel nie en wat jou persoonlik ken, kan wonderwerke verrig.

Nooi ’n vriend of vriendin oor en gesels net, en wanneer jy gereed is, gaan uit saam met jou vriende.

Kry professionele hulp

Dit is dalk in die begin moeilik om te herken jy ly aan depressie. Ons het almal “af dae” en word oorweldig deur die lewe, maar daar kom ’n punt waar ons hanteringsmeganismes nie meer genoeg is nie. Dit is dan belangrik om na ’n sielkundige of psigiater te gaan.

Baie studente gebruik antidepressante en dit is niks om oor skaam te wees nie. As dit al is wat jou aan die gang hou, dan is dit ook reg.

Geestesgesondheidskwessies raak al hoe meer deel van daaglikse gesprekke en universiteite bied verskeie beradingsdienste aan wat gewoonlik gratis vir studente is.

Ek dink die kort en die lank daarvan is dat daar baie hanteringsmeganismes is. Jy moet net uitvind wat vir jou werk.

Om onder in die donker gat te sit, is nie lekker nie. Hoe langer jy daar sit, hoe dieper word die gat. Wanneer jy jou leertjie gebou het en jy sien weer die oppervlak, sal jy nie kan glo dat jy daar onder oorleef het nie.

Depressie voel soms soos ’n geveg wat jy nie wen nie en die donker tye kan lank en moeilik wees. Ek het al genoeg slegte dae in my lewe gehad om te weet ’n mens kom altyd daardeur. Donker tye hou dalk lank, maar dit is belangrik dat jy langer hou as hulle.

Noodnommers

South African Depression & Anxiety Group – SADAG(0800) 12 13 14

Adcock Ingram Depression and Anxiety Helpline 0800 70 80 90

Lifeline South Africa 0861 322 322

South Africa Suicide Crisis Helpline 0800 21 22 23

Besoek gerus jou kampus se webblad vir meer inligting oor berading.

  • Thea is ’n finale jaar farmasie-student aan die Noordwes-Universiteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Leer meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Rand - Dollar
16.21
+2.2%
Rand - Pond
19.80
+1.1%
Rand - Euro
16.70
+1.4%
Rand - Aus dollar
11.48
+0.6%
Rand - Jen
0.12
+0.6%
Goud
1,791.84
-0.1%
Silwer
20.60
+0.3%
Palladium
2,255.50
+1.5%
Platinum
946.00
+0.9%
Brent-ruolie
96.31
-0.4%
Top-40
63,161
-1.0%
Alle aandele
69,745
-0.8%
Hulpbronne 10
64,485
-0.9%
Industriële 25
84,636
-1.4%
Finansiële 15
15,760
+0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos