
Die pro-lewe-siening – waar dit kom by die debat oor ’n vrou se reg op aborsie – is een wat hoofsaaklik vanuit ’n bevoorregte leefwyse spruit.
Die Amerikaanse hooggeregshof se onlangse besluit om die grondwetlike reg tot ’n veilige aborsie, Roe vs. Wade, af te skaf, het tot woede wêreldwyd gelei.
Die afskaffing van Roe vs. Wade beteken dat ’n Amerikaanse deelstaat ’n vrou (sowel as transgender en niebinêre persoon wat kan swanger raak) kan dwing om geboorte te skenk ten spyte van haar fisieke, finansiële of ander omstandighede.
Dit verwyder ’n vrou se vrye wil oor haar eie liggaam. Dit versterk ook die verouderde perspektief van vroue as babafabrieke en nie individue in hul eie reg nie.
Die werklikheid is dat swangerskap nie as ’n vreeslike aanloklike gebeurtenis in baie vroue se lewe manifesteer nie. Nie alle vroue het toegang tot die dieselfde voorregte wat so baie ander as vanselfsprekend aanvaar nie. Voorbehoedmiddels, seksonderrig, ’n veilige gemeenskap en selfs onthouding van seks is vir baie vroue ’n onbekostigbare luuksheid.
Om swangerskap as ’n “seën” of “geskenk” te kan aanskou beteken heel waarskynlik dat hierdie voorregte, en baie meer, aan jou beskikbaar is.
Soos die meeste politieke kwessies is voorregte glad nie iets om op neer te kyk nie – dit is om jou lewe te bevoordeel. Daar kan egter ernstige probleme ontstaan wanneer daar vergeet, of eerder geïgnoreer, word dat nie almal dieselfde voorregte gegun word nie.
Dit is ’n voorreg om ’n positiewe swangerskaptoets as ’n tyd vir feesviering te kan ervaar.
Vir dié wat nie so bevoorreg is nie, beteken ’n gedwonge geboorte dalk ’n plasing in die Amerikaanse pleegsorgstelsel saam met 400 000 ander kinders, waarvan die pro-lewe-aktiviste vergeet het.
Om nie eens te praat van die kinders wat op straat vir hulself moet sorg nie. Wat maak die volgende kind waarvoor die pro-lewe-aktivis gepleit het, anders? In ’n land soos Amerika, waar skietery in skole die norm is en meer en meer kinders in armoede gebore word, doen die pro-lewe-siening nie heeltemal sy naam gestand nie. As pro-lewe ophou ná die kind se geboorte, is dit dalk meer akkuraat om na die beweging te verwys as “pro-geboorte” nie.
Die afskaffing van Roe vs. Wade bevoordeel slegs die mense in die samelewing wat bevoorreg genoeg is om ’n kind ná geboorte te kan of wil onderhou.
Die wegneem van ’n vrou se reg op ’n veilige aborsie plaas dan die geboorte bo die vrou se eie welstand.
’n Wettige uitspraak vir ’n kind wat nog nie in die wêreld bestaan nie, bo die welstand van vroue en kinders wat tans ly in die land of gemeenskap wat jy veronderstel is om te dien, maak jou nie pro-lewe nie.
’n Vermindering in aborsies word nie bewerkstellig deur ’n vermindering van vroueregte nie. Een persoon se siening van aborsie as ’n onvergeeflike sonde raak nie ontslae van die vrou wat in ’n onoorkombare situasie is en een moet kry nie.
’n Vermindering in aborsies word aangebring in die bewuswording van sekere voorregte in terme van swangerskap en kindersorg, wat baie mense nie het nie, sowel as ’n aktiewe stryd vir omstandighede en dienste wat ’n gunstige wêreld sal skep vir vroue en kinders om in te lewe.
Dit begin by die (voor)reg tot ’n vrou se vrye keuse oor haar eie liggaam, lewe en toekoms.
- Corli studeer visuele kommunikasie-ontwerp aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video: