Dis al laat Januarie en bedompig. Ek wou nog ’n Kersalbum van Josh Groban aflaai om die stemmigheid van Kersfees saam met die trifle-jellie te laat stol.
Maar, dis met dié gedagte dat die ontnugtering my tref in die vorm van ’n 50%-afslag op ’n Kersfeessjokolade in die supermark. Is dit al wat oorbly van Kersfees? Goedkoop sjokolade en die kitsch Kersboom in die dokter se wagkamer wat iemand vergeet het om van die toonbank af te haal?
Dis ’n nuwe jaar. 2019. Ek is nog moeg en onseker oor wanneer die oorgang gebeur het, maar ek weet dis die seisoen van introspeksie. Vernuwing. New-year-new-me-twak.
Ek haal die afgeslag-sjokolade van die rak af en wonder of studente nie alles ’n bietjie kan vier nie. Ek kyk na die prys en is onseker of ek selfs die 50%-afslag kan bekostig.
LEES OOK: Vergeet van 2019 se voornemens
Kersfees op Valentynsdag. Valentynsdag op Paasdag. So iets.
Is dit te laat om ’n inspirerende Nuwejaars-Instagram-boodskap te maak? Kwalifiseer ek nog vir Nuwejaarsvoornemens so net voor Februarie?
Ek sit die blink rooiballetjiesjokolade terug op die rak en besluit: Ek hou nie van voornemens nie!
Afgeleefde mantel van roetine
By die groen mango’s op die groenterak pla my besluit my en ek voel hoe die introspeksie begin knaag. Ongeleë op ’n warm laatmiddag in Pretoria. Heeltemal vertraag, maar nou hier om gevoel te word.
Dis nie omdat Nuwejaarsvoornemens nie goed is nie, dink ek by die melk, dis omdat ek nooit weet wanneer die nuwe jaar nie meer nuut is en die voornemens dus nie meer geld nie.
Teen Maart is alles moeg. Die varsheid waarmee die voornemens in die hoopvolle dae van Januarie gebore is, is al verlep en onder ’n afgeleefde mantel van roetine.
My probleem lê by die vroeë vervaldatum van die melk en die nie-volhoubaarheid van Nuwejaarsvoornemens, nie die voornemens self nie.
Die gebaar is vir my mooi. Ek hou van die nuutheid, die introspeksie, die gewilligheid om iets beters te doen.
Dis nodig! Selfs noodsaaklik tot vervulde oorlewing – om bewustheid te kweek by jouself oor jouself en alles om jouself omdat jy tog nader aan jouself wil leef en goed wil voel daaroor.
Tasbare herinnering
By die wynrak weeg ek my verset teen Nuwejaarsvoornemens op teen my gewilligheid tot vernuwing – en tussen ’n merlot of ’n chenin.
Ek laai albei in die mandjie en ek skink ’n benadering tot die innerlike konflik in my glas.
’n Herfrasering is dan die begin van my nuwe aanslag tot hierdie aanslag op my gewete.
Saam met dit los ek voornemens soos gewig verloor, meer oefen, minder wyn drink, vroeër gaan slaap, ophou vloek, vriendeliker op die pad wees en meer seldery eet.
Nie een van daardie voornemens verfris my siel nie en dit sal net een padvark vat om my tot vloek, wyn, woede en stysel te dryf. Dus, nie volhoubaar nie!
LEES OOK: MARCIEL SKRYF: Vakansie, vetrolletjies en voornemens
My benadering en ook my raad tot jou benadering hiervan is om ’n 365-dae-lange-intensie te skep. Iets waarvolgens jy doelbewus wil leef en waaraan jy herinner wil word tot herinnering nie meer nodig is nie.
Met ander woorde – tot dit roetine raak in die roetine. ’n Intensie waarin jy gemaklik kan wees en waarvan die herinnering jou nie skuldig laat voel nie, maar jou tot ’n hoër gehalte lewe laat terugkeer.
Maar, NB: Die herinnering moet tasbaar wees in elke dag. Dit moet deel word van jou denkwyse en leefwyse. Die vordering moet maandeliks bevraagteken word.
Koop ’n nuwe teegeur en koppie as herinnering om elke aand ’n koppie tee te drink in die bed om die dag te bedank.
Maak plek op jou bedkassie vir ’n boek en stel jou foon om 15 minute vroeër in die bed te klim sodat jy tien bladsye van ’n storieboek kan lees.
Maak ’n sonneblom jou foon se muurpapier sodat jy onthou om elke skoonmaker, kassier en karwag elke dag te groet. Maak ’n aantekening in jou dagboek om weekliks ’n uur stil te word en seker te maak jou siel is nog gelukkig.
Kies doelbewus om stadiger te leef met blomme uit jou tuin en kerse in jou kamer. Plant roosmaryn voor jou deur sodat jy bewus kan word van die geur en die lewe.
Ek het nog nie my 365-dae-lange-intensies neergeskryf nie. Ek het ook nog nie genoeg tyd afgestaan om te dink wat ek graag wil hê dit moet wees nie. Maar, ek het vanmiddag hierop afgekom en ek dink dis waar ek sal begin.
Roger Ebert skryf:
“To make others less happy is a crime. To make ourselves unhappy is where all crime starts. We must try to contribute joy to the world. That is true no matter what our problems, our health, our circumstances. We must try.”
’n Lig en met liefde gevulde 2019 vir jou, liewe leser! Van my aan jou (so net voor Valentynsdag).
- Sybrand Harris (23) is ‘n vyfdejaar veeartsenykunde student aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Hy is gebore in die bosvelddorpie, Louis Trichardt, en het aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Hy is ook 'n ambassadeur vir Afrikaans.com.
- Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees nog meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram!