Angs is ’n aaklige ding. Ek dink ons almal het dit al ervaar – tieners, studente en ouers. Ek loop met ’n daaglikse stryd teen angs omdat ek hakkel.
Vir so lank as wat ek kan onthou, was ek doodbang om klaar te maak met skool, want dit was my comfort zone. Ek kon mondelinge vrygespring het, want my onderwysers het my en my angs verstaan. Ek het myself soms saans aan die slaap gehuil en die Here gevra hoekom hy vir my hierdie stukkende stem gegee het.
Dit is so maklik om in ’n put van depressie te verval as jy nie bo jou omstandighede wil uitstyg of ’n goeie ondersteuningsnetwerk het nie.
My ouers en vriende het verstaan dat ek hakkel en hulle het verstaan dat dit nie okay is om my sinne vir my te voltooi of my te onderbreek wanneer my woorde so bietjie remixes maak nie.
Daar was ’n geval waar my hart totaal gebreek het omdat my klasmaats en vriende amper op my geskree het toe hulle hoor dat ek nie ’n mondeling gaan doen nie.
LEES OOK: Dít is die ‘hart’ in hartsmens
Ek het nie gedink dat hulle my gehakkel gedurende die mondeling soos volwassenes sou kan hanteer nie.
Om eerlik te wees was ek net bang ek hoor iemand per ongeluk giggel, want sulke dinge gebeur en ek weet nie of ek ooit daaroor sou kon kom nie.
Dis ’n geskenk
Ek skryf dit glad nie omdat ek wil hê julle moet my jammer kry nie, want ek is só okei. Ek het besef hierdie gehakkel is vir my gegee as ’n geskenk, en omdat ek hakkel, is ek in staat om soveel mense te laat luister.
Nie noodwendig wanneer ek praat nie, maar wanneer ek sing of skryf of selfs net glimlag. Ek het ’n love letter van God af gekry toe ’n vrou vir my kyk en doodstil raak toe sy my sien. Sy het gesê dat sy God in my gesig sien. Ek het toe besef woorde is nie altyd nodig nie.
Ek wil net hê dat mense moet begin besef dat woorde ’n wapen is wat scars los, vir ewig. As jy iemand ken wat hakkel, of as jy hakkel, dan is jy geseënd, want dit is so special om special te wees.
En as jy nie hakkel nie, dat jy asseblief oor als sal praat en waardeer dat jy wel kan praat. Gebruik daai wapen om net liefde te versprei, die hemel weet, ek probeer.
- Jodi Jantjies studeer aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy woon in Mitchells Plain.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
- Volg Die Student op Instagram!