
Dear gentle reader. Só begin Lady Whistledown ook haar vertelling in die tweede seisoen van die gewilde Bridgerton-reeks.
Die eerste seisoen wat in Desember 2020 uitgereik is, het ’n Netflix-rekord gebreek toe die Bridgerton-familie binne die eerste 28 dae in 82 miljoen huishoudings wêreldwyd gekuier het vir 625 miljoen kykure!
Dit is dus nie verbasend dat kykers gierig was om weer na die ou Engelse wêreld terug te keer nie.
Die tweede seisoen het ook ’n Netflix-rekord laat spat, want binne die eerste drie dae is die reeks byna 200 miljoen ure lank gekyk.
Seisoen een, wat Daphne Bridgerton en Simon Basset se liefdesverhaal vasvang, het kykers die geleentheid gebied om die ingewikkelde en delikate web van die Regency-era in Londen in die vroeë jare 1800 te ervaar.
Die eerste seisoen was grotendeels Daphne se storie en daarom het dit ’n meer vroulike perspektief gehad. In die tweede seisoen rus die onus egter op Anthony, die oudste Bridgerton-seun, om uiteindelik sy vrou te kies en sy rol ten volle as hoof van die Bridgerton-familie op te neem.
Hoewel die nuwe seisoen ook baie ingestel is op Eloise se toetrede as debutant tot die sosiale kringe vir die komende manvang-seisoen, en die Sharma-susters se voorbereiding om vir Edwina ’n man te kry wat aan haar ousus, Kate, se standaarde voldoen, verleen Anthony se storielyn ’n verfrissende, nuwe perspektief.
Shonda Rhimes en Chris van Dusen, die vervaardigers, beantwoord baie vrae wat aan die einde van seisoen een nog onbeantwoord was.
Ek het in die eerste seisoen reeds agtergekom dat ’n heuningby ’n belangrike simbool in die verhaal is, maar eers in die tweede seisoen besef ons hoekom dit juis so belangrik is.
Die grootste bekommernis vir aanhangers van die rojale reeks was dat Regé-Jean Page, wat die rol van Simon Basset vertolk, reeds verlede jaar aangekondig het dat hy nie meer deel van die Bridgerton-reeks gaan wees nie. Maar ek kan nou verklaar dat ek hom glad nie gemis het nie, want die tweede seisoen het ’n unieke storielyn wat nie werklik plek vir die hertog en hertogin van Hastings gehad het nie.
Die vervaardigers het interessante keuses gemaak wat heel moontlik bygedra het tot die sukses van die reeks deurdat dit ’n vars, maar relevante kant van die reeks beklemtoon het.
Die rolprentspan was vasbeslote om die rolverdeling van die reeks so divers as moontlik te maak en ook waar hulle kan, liefdestonele uit die vroulike perspektief te verfilm, pleks van deur die alombekende “male gaze”.
Onmisbare karakters soos koningin Charlotte is uniek in die reeks en is glad nie eens deel van Julia Quinn se oorspronklike romans waarop die reeks gegrond is nie; tog kan ons nie die reeks sonder haar voorstel nie!
Bridgerton vertel die storie van liefde en verhoudings in alle vorme, maar in dié tweede seisoen oorskry die liefde romantiese grense en sluit ook die liefde tussen susters en hartsvriendinne in.
Die Sharma-susters het dit nie altyd maklik gehad nie, en veral Kate sal met Anthony Bridgerton kan vereenselwig wanneer dit kom by familiepligte en die druk van eersgeborene wees.
Penelope Featherington en Eloise Bridgerton se jare lange vriendskap kan moontlik skade ly weens Eloise se beheptheid om die anonieme skinderskrywer Lady Whistledown te asook Penelope se grootste geheim te ontmasker.
Alle aspekte van Bridgerton is betowerend: die storie, die kostuums, die milieu, die indrukwekkende geboue en rekwisiete!
Die klankbaan bestaan uit gewilde liedjies wat uitgevoer word deur strykkwartette om aan die reeks ’n klassieke, tog moderne klank te bied waarby veral jonger kykers aanklank sal vind.
Aan die einde van die reeks het ek gesmag na meer. Agt episodes is egter net-net genoeg om die onttrekkingsimptome te verlig en ons uit te honger vir dit wat nog gaan kom, want daar is reeds bevestig dat ons ’n derde en selfs ’n vierde seisoen kan verwag.
8/10. Net omdat ek gevoel het die eerste 6 episodes het 'n bietjie lank gevat om tot die punt te kom en toe gebeur als in die laaste twee episodes!
- René is van Grahamstad in die Oos-Kaap en doen tans haar meestersgraad in Afrikaans in Nederlands aan die Rhodes-universiteit.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video: