
Dink jouself in, net vir ’n oomblik, hoe dit sal voel om deur iemand anders se trauma te leef.
Hul lewe te kan sien deur iets anders as die gewone rooskleurige bril. Dink aan die pyn en teleurstelling wat ons as jong mense so baie moet voel en tel dan die boek Girl in Pieces op.
Die verhaal word deur ander outeurs as “rou” beskryf en dit is die beste woord wat gebruik kan word, want jy sien nie die fluffy dinge van die lewe raak nie. Jy word op die koue straat gegooi en leer saam met Charlie hoe om die lewe se houe te vat.
Kathleen Glasgow is nie skaam as dit by taboe onderwerpe kom nie. Haar boek bring die wêreld van selfbesering en ander geestesgesondheidsprobleme tot in jou skoot waar jy dit nie meer kan ignoreer nie. Dit staar jou stip in die oë soos ’n kobra wat reg is om toe te slaan.
Van begin tot einde was ek op die punt van my stoel. Ek gaan nie jok nie, die is nie die eerste keer dat ek hierdie spesifieke boek opgetel het nie, maar dit was wel die eerste keer dat ek dit kon klaar lees.
Glasgow se skryfstyl laat ’n mens voel asof jy hierdie seer, swaar pad saam met Charlotte loop.
’n Mens ontmoet die jong hoofkarakter in ’n psigiatriese hospitaal met verbande om haar arms en bene wat haar snymerke bedek en wonder dadelik waarom sy daar is. Daar moes tog iets gebeur het. Charlie vat ’n mens aan die hart en lei jou stukkie vir stukkie deur haar verhaal.
Sy vertel jou van haar pa wat sy eie lewe as gevolg van depressie geneem het toe sy klein was en van haar ma wat haar as ’n slaansak gebruik het.
Sy vertel jou van Ellis, haar beste vriendin, wat opgevreet is deur ’n wêreld wat sy nie kon hanteer nie.
Jy leer van die plekke waar Charlie moes slaap en van Frank en die mans agter die rooi deur met die meisies wat huil.
Dit ruk aan jou menswees en dwing jou om te sien wat om jou aangaan.
Die boek is ’n groot tree vorentoe vir die wêreld van geestesgesondheid, want skielik sien jy nie net die snye, brandmerke en pille nie, jy sien die mens daaragter. Jy sien hoe die lewe ’n jong meisie vat en al haar goedheid uitskud. Of probeer. Jy kry die geleentheid om saam met Charlie te huil en te lag. Jy leer van liefde en van seerkry op ’n rou, onskuldige manier, en saam met Charlie word jou hart keer op keer uitgeruk.
Ek gaan die verhaal nie bederf nie. Ek gaan jou nie sê hoe dit eindig nie. Ek kan jou wel vertel dat die boek een van die bestes op die mark is. Glasgow skilder prente in jou kop met haar woorde wat jou laat bibber en bewe. Sy krap jou oop waar jy nie geweet het jy het seerplekke nie.
Sy laat jou toe om te voel wat jy voel en wanneer jy dit voel en leer jou in die proses dat selfs die sterkste mense om hulp mag vra.
- Chrismarí Britz (21) studeer vir haar honneursgraad in BSocSc-sielkunde aan die South African College of Applied Psychology.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video: