
Ek het ’n ruk gelede ’n meme op Instagram gesien met iemand wat sê “I can’t believe our daughters will now be born with fewer rights than those of 50 years ago”, waarop die ander persoon antwoord “But they will be born.”
Kom ons sit vinnig die feite uiteen: Wat is Roe v. Wade?
Dit verwys na ’n hofsaak in 1973 waarin die hoogste hof in die VSA beslis het vroue het ’n grondwetlike reg op die keuse om ’n aborsie te hê, dus handel die beslissing slegs oor gekose (elective) aborsies.
Wat beteken dit dat die beslissing omgekeer is?
Die regulering van aborsies is teruggeplaas in die hande van burgers en hul verkose wetgewende verteenwoordigers aangesien elke staat nou self kan besluit oor hul aborsiewetgewing.
Die hoofargument ten gunste van persoonlike keuse is dat die regering geen reg oor vroue (wat ook al daardie woord ook al mag beteken) se liggame het nie en dus nie kan besluit wat hulle daarmee mag of nie mag doen nie. Tog kan die regering bepaal dat ek nie my hande mag gebruik om iemand dood te slaan nie en dat ek nie my voet mag neersit op die petrolpedaal en teen 220 km/h rondjaag nie. Hoekom mag die regering nie dieselfde inperkings instel ter beskerming vir ongebore babas nie?
Maar dit is nie ’n baba nie, is die volgende argument.
Die meeste mense meen dat die fetus nie lewensvatbaar is tot ongeveer 20 weke nie en dus word aborsies in die meeste state beperk tot hierdie fase van swangerskap.
Tog erken die VSA se Unborn Victims of Violence Act van 2004 ’n fetus of embrio as “lid van die spesie homo sapiens, ongeag stadium van ontwikkeling”. Dus verklaar die wet dat die aanranding of moord van ’n swanger vrou as twee misdade beskou sal word. So ongebore babas word dus beskerm teen almal behalwe hul eie ma’s.
Wat dan van verkragting? Hier raak die saak ’n bietjie meer ingewikkeld. Mense gebruik gereeld verkragting as argument om alle aborsies te regverdig terwyl slegs 1% van aborsies wat jaarliks in die VSA gedoen word verkragtingsgevalle is. Verdien ’n kind die doodstraf vir sy pa se sonde?
Een van my vriende het geredeneer dat die kind moontlik ’n gomsnuiwer op straat gaan word indien die ma nie eintlik die kind wil hê of kan bekostig nie. Dit is wel onwettig om ’n gomsnuiwer op straat te vermoor. ’n Vrou wie se kind dálk so ’n mens gaan word, word egter aangemoedig om dit te doen.
Ek weet die artikel klink geweldig onsimpatiek, maar ek is nie. Regtig nie. Ek stem saam dat tieners beter ingelig moet word oor voorbehoedmiddels. Ek stem saam dat die samelewing se gedrag teenoor tienerswangerskappe walglik is. Ek stem saam dat daar beter ondersteuningstelsels vir enkelma’s moet wees. Ek stem saam dat verkragting die diepste hel is wat ’n vrou kan beleef.
Ek glo net nie dat aborsie die antwoord is nie.
In Moeder Teresa se woorde:
“Abortion has become the greatest destroyer of peace, because it destroys two lives, the life of the child and the conscience of the mother.”
- Marelize is besig met haar honneurs in geoktrooieerde rekeningkunde aan die NWU Potchefstroom.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video: