Liewe wit Suid-Afrikaner

akkreditasie
Timothy Nel
Timothy Nel

Ek het ’n gewigtige versoek. Terwyl jy hierdie brief lees, wil ek hê jy moet met liefde luister, ’n soort liefde wat vereis dat jy kyk na dele van jouself wat heel moontlik pyn en verskrikking veroorsaak.

Het jy dit gehoor? Ek wil hê jy moet met liefde luister. Wel, probeer ten minste.

Hierdie brief is ’n uitnodiging. Hou egter in gedagte dat sommige uitnodigings moeiliker as ander is om te aanvaar. Jy hoef dit nie te aanvaar nie; daar is geen verpligting nie. Ek gee dit vrylik en glo dat baie van julle die uitnodiging in my gesig sal teruggooi en sê dat ek jou verkeerdelik beskuldig, dat ek te sensitief is, dat ek ’n opstoker is en dat ek wit mense (julle) blameer vir alles.

So, terwyl jy hierdie brief lees, haal diep asem. Maak ’n ruimte vir my stem in die diepste deel van jou psige. Luister. Wees stil.

Teen hierdie tyd het die meeste van ons al die video van die wit student wat op ’n swart student se besittings urineer onder oë gehad of iets daaroor op sosiale media gelees. Die video is ’n klinkklare bewys dat Suid-Afrika se verlede in die hede voortleef.

Op sosiale media het mense natuurlik uiteenlopende menings oor die voorval. Sommige het die voorval ten sterkste veroordeel en het daadwerklike optrede geëis, terwyl ander (lees: wit mense), soos gewoonlik, verdedigend was en gesê het dat dit nie weer ’n “rasseding gemaak moet word nie”. En, dalk is laasgenoemde juis die groot olifant in die vertrek.

Dr. Robin DiAngelo, Amerikaanse skrywer, het die term ‘wit broosheid’ geskep en dit verwys na ’n gevoel van ongemak wat ’n wit persoon ervaar wanneer gesprekke rondom rasseongelykheid en -onregverdigheid begin word, en beskryf die verdediging wat wit mense toon wanneer hul idees oor ras en rassisme uitgedaag word.

Dit is juis waarom jy gemaklik moet raak daarmee om ongemaklik te voel, om oor dit wat jou ongemaklik maak te praat.

’n Mens kan seker tot ’n mate verstaan dat dit ongemaklik moet wees om oor ras, jou (onbewuste) vooroordele en bevoorregting te moet praat, maar daar is egter iets wat meer ongemaklik is. Die lot van mense van kleur in Suid-Afrika en die min wat gedoen word om dit te verander. Dit is juis waarom jy gemaklik moet raak daarmee om ongemaklik te voel, om oor dit wat jou ongemaklik maak te praat.

Weeg jou effense ongemak regtig swaarder as die onmenslikheid wat mense van kleur op ’n daaglikse basis ervaar? Wat sê dit van jou as mens as jy iemand probeer verdedig wat dink dis aanvaarbaar om op ’n ander se besittings te urineer?

Waarom is wit broosheid dan problematies as dit nie noodwendig rassisme op sigself is nie? Sien, mense wat wit broosheid ervaar, is dalk nie rassisties as sulks nie, maar hul optrede, gedrag en gevoelens kan rassisme bevorder.

Om die onderwerp van ras te vermy dra juis tot rassisme by. Deur gesprekke rondom die idees van wit meerderwaardigheid en wit bevoorregting te vermy, sal rassisme steeds sy plek in die samelewing beklee.

Vra enige persoon van kleur en hulle sal vir jou sê dat ook hulle al te doen gekry het met ’n wit mens wat aan wit broosheid ly. Sulke mense is doodeenvoudig power daarin om rassisme te bespreek.

Soos branders op sand vorm hul reaksies voorspelbare patrone

Soos branders op sand vorm hul reaksies voorspelbare patrone: Hulle sal daarop aandring dat hulle “geleer is om almal dieselfde te behandel”, dat hulle “kleurblind” is, dat hulle “nie omgee of jy pienk, pers of geel is nie”. Hulle sal verwys na vriende en familielede van kleur, ’n geskiedenis van burgerregteaktivisme of ’n meer relevante kwessie, soos klas, geslag of seksualiteit. Hulle sal skree en gil. En dan volg ’n tranedal en die gesprek rondom rassisme word uitgestel.

Dit veroorsaak ’n bose kringloop wat rassisme onaangeraak laat in ons samelewing.

Haal weer diep asem. Ek weet daar is diegene wat met kokende woede, sarkasme, ongeloof en ontkenning aan my in die kommentaarafdeling sal skryf. Daar is diegene wat sal sê: “Wat weet ’n born-free dan nou van apartheid of rassisme?”

Daar is ander wat sal sê: “Hoekom erken mense van kleur nie net dat hulle te lui is om vir hulself welvaart en vooruitgang te skep nie?” Of: “Hoe kan Timothy sê dat alle wit mense rassiste is?”

As jy dit sê, versuim jy om te luister. Met liefde te luister. Onthou, ek kom met ’n uitnodiging. En jy verwerp klaar die uitnodiging. Hierdie brief gaan oor jou. Moenie die gesprek probeer verander nie.

Miskien kan jy op hierdie oomblik gebruik maak van die wysheid van James Baldwin wat skryf: “Nie alles waardeur ons in die gesig gestaar word, kan verander word nie, maar niks kan verander word totdat dit in die gesig gestaar word nie.”

Wit Suid-Afrikaners hou egter van die idee dat rassisme vermy kan word deur almal passief gelyk te behandel. Dis natuurlik niks minder as ’n klug nie.

Jy moet aanvaar dat ons almal grootgemaak is in ’n samelewing wat wit kultuur opgehef het.

En, dit is die uitnodiging wat ek jou wil gee. Om eerlik en reguit oor rassisme te praat. Soveel so, dat jy sal besef dat die teenoorgestelde van rassisme nie is om nie rassisties te wees nie. Om nie rassisties te wees nie, beteken nie dat rassisme nie bestaan nie en om te sê dat jy kleurblind is, beteken maar eintlik om jouself blind te staar teen die rassisme om jou. Om nie rassisties te wees nie is nie genoeg nie.

Antirassisme behoort die doelwit te wees.

Jy moet aanvaar dat ons almal grootgemaak is in ’n samelewing wat wit kultuur opgehef het. Om antirassisties te wees, sal beteken dat jy eers daardie idees in jouself uitdaag. Leer en voed jouself op oor die geskiedenis van rassisme en antirassisme, veral in Suid-Afrika, sodat jy die kompleksiteite rondom rassekwessies beter kan verstaan.

Tot dan hoop ons op ’n deeglike en deursigtige ondersoek deur die Universiteit Stellenbosch en dat hierdie voorval dié instelling na werklike inklusiwiteit en gelykheid sal lei en nie soos vorige voorvalle onder die mat gevee sal word nie.

Ons het duidelik nog ’n lang pad om te stap om ’n gelyke samelewing, vry van rassisme en ondraaglikheid te bewerkstellig. Maar vir eers sal dit help as jy kan luister na die pyn en die seer wat jy onmoontlik kan verstaan sonder om verskonings vir jouself en ander te maak en te besef dat daar geen plek vir die verlede in die hede is nie.

Haal diep asem. Luister.

  • Timothy is ’n nagraadse regstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is oorspronklik van Ebenhaeser, sowat 30 km buite Vredendal.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video: 

besig om te laai... Regstreeks
Ireland 0
Afghanistan 41/0
Rand - Dollar
16.23
+0.1%
Rand - Pond
19.67
+0.7%
Rand - Euro
16.66
+0.7%
Rand - Aus dollar
11.54
+0.0%
Rand - Jen
0.12
+0.4%
Goud
1,793.70
+0.2%
Silwer
20.55
+1.2%
Palladium
2,259.00
-1.4%
Platinum
954.00
-0.7%
Brent-ruolie
99.60
+2.2%
Top-40
64,149
-0.7%
Alle aandele
70,883
-0.5%
Hulpbronne 10
64,324
-2.3%
Industriële 25
86,689
-0.4%
Finansiële 15
16,099
+0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos