Die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) en Paarl Gimnasium se eerste rugbyspanne het met uitstekende oorwinnings die afgelope naweek ’n aanduiding gegee dat albei slaggereed is vir hul jaarlikse interskole-kragmeting komende Saterdag.
Boishaai het met 33-11 vir South African College High School (SACS) sy soveelste pak slae die afgelope twee dekades toegedien, terwyl dit veral Paarl Gim se uitstekende agterlynspel en die uitbuiting van Bishops Diocesan College se foute was wat die Gimmies vir die vyfde agtereenvolgende keer in staat gestel het om die besoekers hierdie keer met 57-26 te looi.
Paul Roos het in sy kragmeting teen Wynberg voorlangs die septer geswaai. Wynberg Boys’ High School het aanvanklik goeie teenstand gebied, maar die Stellenbossers het uiteindelik met vyf drieë (teenoor die besoekers se drie drieë) oortuigend 32-17 gewen.