KYK: Ontmoet die onderwysers!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Kuier Rapport Matriekklas 2021 is in volle swang en die groep onderwysers wat vanjaar deel uitmaak van die projek is ’n groep uitmuntende, inspirerende en passievolle opvoeders.

Hoewel die pandemie hul taak bemoeilik, is die opvoeders se aanhouer-wen-mentaliteit bewonderenswaardig en sit hulle alles in om te verseker dat die klas van 2021 hul eindeksamen suksesvol aflê. Lees meer oor die uitdagings vir beide onderwysers en leerders met betrekking tot die pandemie en waarmee leerders sukkel in die betrokke aanbieders se vakgebiede. Die aanbieders gee ook ’n woordjie van bemoediging aan die leerders.

Rhuwayda Mitchell (48)

Rhuwayda Mitchell
Rhuwayda Mitchell

Rhuwayda is sedert 2017 betrokke by die projek as koördineerder en is vir die afgelope 27 jaar in die onderwys. Sy onderrig Afrikaans Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Geskiedenis by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Sy is ook ’n nasiener in die matriekeindeksamen vir Vraestel 3 Eerste Addisionele Taal. Sy vertel geesdriftig onderwys is haar passie en deel van haar DNS. “Hierdie projek het vandat dit in 2017 begin het so baie matrikulante wat uit moeilike omstandighede (akademies en emosioneel) kom, gehelp groei. Vandat ons in 2020 digitaal gegaan het, kon ons meer leerders bereik.”Sy vertel dat vanjaar met sy eie uitdagings gepaard gaan. “Baie leerders sukkel om te fokus. Leerders bly afwesig as gevolg van isolasie en het geliefdes aan die dood afgestaan. Hulle sukkel om take te voltooi en kan nie konsentreer nie. Skole moes noodgedwonge roosters aanpas om by die Covid-19-regulasies te hou. Buitemuurse aktiwiteite (sport en drama), wat vir baie leerders ’n uitlaatklep was, bestaan nie meer nie.” Rhuwayda sê verdere druk van ouers op leerders wat take by die huis moet verrig en na hul sibbe moet omsien, plaas nog druk op matrieks. “Hulle is regtig aan die diep kant ingegooi en dit moet in berekening gehou word. Leerders onthou asseblief dit maak nie saak wat ander doen nie, wat wel saak maak, is wat jý doen! Sterkte en voorspoed.”

Stephen Adams (34)

Stephen Adams
Stephen Adams

Stephen is ’n onderwyser by Hoërskool Curro Durbanville en onderrig Wiskunde (graad 8 tot 12). Dié meneer, wat al vir 12 jaar in hierdie beroep staan, sê hoewel die leerders vinnig by die nuwe normaal kon aanpas, is die groot agterstand steeds ’n uitdaging. “Daar is eenvoudig nie genoeg tyd om alle gapings te oorbrug nie. Daar word nou van leerders verwag om meer op hul eie te werk, want elke vak soek sy ‘pond vleis’. Alhoewel leerders weet dat dit vir hul eie toekoms is, hang die swaard van die effek van die pandemie oor ons koppe.”Hy vertel Wiskunde is oor die algemeen vir baie leerders ’n moeilike vak, maar leerders sukkel veral met meetkunde, calculus, finansies en grafieke. “Dit is graad 10-werk wat bemeester moet word sodat hulle dit goed in graad 12 kan verstaan. Onderwysers moet met elke hoofstuk verwys na graad 10 en 11. Dit vat baie tyd in beslag. Tyd is ’n groot faktor in die sukses van vanjaar se matrieks. Is daar genoeg tyd om alle werk te dek? Net die tyd sal leer.”Stephen sê matrieks moet seker maak dat hulle genoeg oefen. “Soos die ou gesegde maar sê: ‘practice makes perfect’. Werk deur genoeg vraestelle sodat jy vertroud is met die standaard van vraagstelling. Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Jy het hierdie geleentheid om jou beste te gee. Met opoffering kan jy sukses bereik. Alle sterkte.”

Etienne Pienaar (36)

Etienne Pienaar
Etienne Pienaar

Etienne van Kraaifontein werk by Hoërskool Curro Durbanville. Hy is vir die afgelope 13 jaar in die onderwys en bied Wiskunde aan. Hy vertel verlig dat die tweede jaar van die pandemie, met betrekking tot die onderwys, aansienlik makliker is as die eerste een. “Daar is natuurlik nog baie uitdagings, maar onderwysers en leerders is meer gemaklik om aanlyn klas te loop indien nodig, en op kort kennisgewing. Leerders is meer veerkragtig as wat ons hulle krediet gee. Ek is baie beïndruk met die wyse waarop leerders eienaarskap neem ten opsigte van self-studie.”Volgens Etienne is die grootste uitdaging dat matrikulante die vorige jaar se vakinhoud nie 100% onder die knie het nie. Hy is van mening dat leerders baie laat hul rol en verantwoordelikheid besef het in die omgewing van ’n aanlyn skool. “Alhoewel leerders nou besef hulle moet net so hard werk by die huis as in die klas is daar steeds gapings van laas jaar. Dit is nou die leerder se verantwoordelikheid om self-studie te doen en verrykende en meer uitdagende somme op hul eie te oefen.”Oor die algemeen sukkel leerders om die verbintenis te sien tussen hoofstukke. “Alles in Wiskunde praat met mekaar. Om probleme op te los in graad 12 vereis van leerders om alle vaardighede wat hulle oor die drie jaar opgebou het, te gebruik. Die beste manier om hierdie probleem aan te spreek, is om te oefen!”Etienne gee die volgende raad aan matrieks: “Moet nooit bang wees om verkeerd te wees nie. Moet nooit moed verloor as jy sukkel nie. Wanneer jy ’n som regkry, is dit die grootste beloning. Daarna sal jy dit nooit vergeet nie.”

Carmichelle Fransch (47)

Carmichelle Fransch
Carmichelle Fransch

Carmichelle is werksaam by Rosendaal Sekondêre Skool in Delft en is die departementshoof vir die vakke English, Afrikaans, isiXhosa en Lewensoriëntering. Sy onderrig English First Additional Language en English Home Language aan graad 11 en 12. Sy is al vir 26 jaar ’n onderwyser. “Dit is ’n jaar gevul met uitdagings, maar onderwysers bly hoopvol dat ons ons leerders in staat sal stel om hul laaste struikelblok te oorkom. Daar is ’n gevoel van nederlaag onder baie van die leerders, en dit beteken dat hulle op twee fronte bygestaan moet word. Ons moet die kurrikulum voltooi en ook hul geestelike en sielkundige welstand aanspreek.”Sy sê die grootste uitdaging vir haar persoonlik is die min erkenning wat daar gegee word aan die geestelike impak wat die pandemie op alle betrokke partye het. “Die idee dat dinge terug gaan keer na normaal moet uit die weg geruim word. In plaas daarvan moet ons nuwe maniere van effektiewe opvoeding begin oorweeg. Dit beteken dat alle faktore wat ’n impak lewer op die skool se vermoëns om te perform aandag aan gegee moet word. ’n Inklusiewe en holistic approach word benodig met minder assesserings en meer leer.”Carmichelle sê leerders en onderwysers moet onthou dat hulle die berg saam kan oorkom. “Ons is survivors, oorwinnaars, braaf en lewende bewyse van die onoorwinlike gees van humanity. Tot hier het ons dit gemaak. Hou net moed. Saam gaan ons hierdeur kom. Ons kan dit doen!” 

Denver Blennies (51)

Denver Blennies
Denver Blennies

Denver, van Ravensmead in die Kaap, is tans verbonde aan Hoërskool Bergvliet. Dié meneer is al ’n ou hand in die bedryf en het 29 jaar ervaring in die onderwys. Hy onderrig Afrikaans Eerste Addisionele Taal. “Die tweede jaar van die pandemie het ons as skool beter ervaar aangesien ons beter voorbereid was. Ek is ook in die bevoorregte posisie om aan Hoërskool Bergvliet klas te gee, waar ons reeds sedert die begin van die kwartaal voltallig is. Die meeste leerders het ook toegang tot internet, so ons kon steeds voortgaan met onderrig.”Hy vertel die grootste uitdaging vanjaar is die veranderinge wat aan SBA-take gemaak is. “Vakadviseurs het goeie leiding verskaf, maar ek was soms nie seker wat van ons verwag word nie. Die navorsingstake en oopboektoetse het ons leerlinge luier gemaak. Ek besef met die vele onderbrekings het dit ook leerlinge se houding teenoor hul skoolwerk verander.” Denver sê dat hy as onderwyser baie meer moes insit om leerlinge te motiveer om gefokus te bly. “Ek moes aan hulle lees en vrae help beantwoord. Hulle moes gevoed word en kon nie self die werk doen nie. Ek het in 2020 ’n swakker groep matrieks gehad, maar hulle was meer gemotiveerd. Moenie vergeet dat ons huidige matrieks nie ’n volle graad 11-jaar gehad het nie.”Hy sê matrieks moet onthou dat dit in hul vermoë is om goeie punte te behaal as hulle bereid is om hard daarvoor te werk. “Hulle moet altyd hul eindbestemming in gedagte hou: ‘Waarheen is ek op pad? Wat makeer ek om daar te kom?’ Alles wat hulle wil bereik, hang van hulle af.”

Jeremy Dietsiso (28)

Jeremy Dietsiso
Jeremy Dietsiso

Dié passievolle onderwyser van Blackheath in die noordelike voorstede van Kaapstad is tans by die Hoërskool Silversands. Hy onderrig Natuurwetenskappe en Lewenswetenskappe en is agt jaar in die onderwys. Jeremy vertel die grootste uitdaging van die skooljaar is die konstante onsekerheid. “Nog ’n groot uitdaging is die feit dat ek as onderwyser nie myself kan uitlewe in my vak soos gewoonlik nie as gevolg van al die Covid-19-protokolle.”Jeremy sê matrieks sukkel oor die algemeen met eksamenvoorbereiding. “Daar was geen Junie-eksamen vanjaar nie. My advies aan die klas van 2021 is om geskiedenis te maak. Leer en werk deur elke liewe ou vraestel en memo. Ken die tegniek van die vak en pas sodoende die inhoud daarby. Ek is baie opgewonde oor die Kuier Rapport Matriekklas. Dit gaan die matrikulante baie help om die inhoud van die vakke te verstaan.”Hoewel die tweede jaar van die pandemie met sy uitdagings kom, sê Jeremy dat hy as onderwyser meer voorbereid is. “Veral ten opsigte van die emosionele en skolastiese ondersteuning vir my leerders. Matrikulante, julle moet skiet vir die sterre en moet laat niks julle agterhou nie. Die wêreld is jul oester!”

Miranda Jonas (60)

Miranda Jonas
Miranda Jonas

Dié 60-jarige onderwyser is oorspronklik van George, maar woon tans in die noordelike voorstede van Kaapstad. Sy is ’n vakadviseur in die Metro-Oos-onderwysdistrik en haar vakgebied is Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Miranda is reeds 38 jaar in die onderwys. “Die tweede matriekjaar in die pandemie word ietwat beter as die eerste een, wat ons onkant betrap het, ervaar. Ons is beter toegerus om die tweede pandemiejaar te hanteer, al is daar steeds ’n paar uitdagings. Die tegnologie lol maar soms nog wat leerders en onderwysers betref.”Sy vertel dit is ’n groot uitdaging om die kurrikulum af te handel gegewe die leemtes en uitdagings van verlede jaar. “Soms wonder jy of kinders by ’n ‘normale’ ritme van in matriek wees, kan byhou. Sommige kinders en onderwysers sukkel om by die nuwe normaal aan te pas. En om die hele dag ’n masker te dra, is vir leerder en onnie ’n uitdaging. Die nuwe eksamenriglyne vir Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal is ook ’n uitdaging wat onder die knie gekry moet word.”Miranda sê as jy toppunte wil behaal, moet jy die ekstra myl stap. “Jy moet gefokus werk. Maak seker dat jy al die werk onder die knie kry. Maak gebruik van al die addisionele hulp wat jy kan kry.”

Monique Collins (47)

Monique Collins
Monique Collins

Monique is ’n onderwyser by die Tegniese Hoërskool Kuilsrivier en onderrig Wiskundige Geletterdheid (graad 12). Sy is vir die afgelope 25 jaar in die onderwys. “Die grootste uitdaging is die graad 11-agterstand weens die pandemie. Tyd speel ook ’n groot faktor daarin om die leerders voor te berei vir hul finale eksamen.”Sy sê leerders sukkel met die interpretasie van vraestelle. Volgens haar kan leerders lees, maar sukkel hulle met die interpretasie van die inhoud. “Ek stel voor dat leerders ten alle tye blootgestel word aan vraestelle. Leerders sukkel om Vraestel 2 in die eksamen te beantwoord, weereens interpretasie. Vir die graad 12-leerders, ons weet dit is baie moeilike omstandighede, maar probeer ten alle tye net jou beste te lewer. Belê in jouself. Dis jou drome, bewaarheid dit. Stel ten alle tye jouself en jou doelwitte eerste.” Dié juffrou gee ook raad aan die ouers en ander onderwysers: “Julle speel die belangrikste rol. Ondersteun jou kind en help waar jy kan. Eksamen is baie stresvol vir hulle, luister en wees net daar vir hulle. Vir die onderwysers, ek haal my hoed af vir elkeen van julle, 2020 en 2021 was baie moeilik, maar ons Hemelse Vader het ons almal beskerm en gedra. Sterkte met die maande wat nog voorlê om ons leerders voor te berei.”

Colin Mitchells (34)

Colin Mitchells
Colin Mitchells

Colin is van Klipheuwel en ’n onderwyser by Wesbank Sekondêre Skool op Malmesbury. Hy onderrig Rekeningkunde (graad 10 tot 12). Dit is sy twaalfde jaar in die onderwys. Hy vertel dat hy vanjaar beter toegerus en ingelig is om homself te beskerm teen die virus. “Ek is beter voorbereid om leerders aanlyn te ondersteun via MS Teams en WhatsApp. Ek is ook kalmer aangesien ons meer onderrigtyd gekry het om inhoud te dek en vas te lê.”Hy sê egter nie alle leerders het toegang tot die internet om voordeel te trek uit aanlyn ondersteuning nie. “Sommige leerders het onderrigtyd verloor as gevolg van familielede in die huis wat positief getoets het. Angstigheid onder leerders kon ook gesien word aangesien hulle die infeksies en sterftes in hul gemeenskappe gesien het.”Colin meen leerders sukkel om finansiële inligting krities te ontleed en te interpreteer. “Gebrekkige leesvaardighede dra daartoe by dat leerders nie konsepte verstaan en kan toepas nie. Hulle sukkel soms ook met basiese berekeninge. Finansiële state word gewoonlik swak beantwoord, veral die kontantvloeistaat.”Hy raai matrikulante aan om deur vorige matriekvraestelle te werk en dit te ontleed. “Daar is verskriklik baie hulpmiddels aanlyn beskikbaar, maak gebruik daarvan. Maak gebruik van al die hulp en ondersteuning wat jou opvoeder jou bied.”

Ursula Joubert (55)

Ursula Joubert
Ursula Joubert

Ursula, van Bellville in die Kaap, bied Afrikaans Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Lewensoriëntering (graad 8 tot 12) aan by Oval North Sekondêre Skool in Mitchells Plain. Sy is al vir 33 jaar in die onderwys. “Verlede jaar was ’n algehele uitdaging vir die klas van 2020. Dit was ongekende tye wat gepaard gegaan het met vrees vir die virus en dat die matriekjaar negatief beïnvloed sou word. Leerders was onseker, maar ook vasbeslote om dié uitdagings te oorkom en die uitslae was ’n bewys daarvan,” vertel dié juffrou trots.Volgens haar het leerders vanjaar in ’n mate gewoond geraak aan die abnormale normaal. “Die uitdagings van 2021 verskil in dié dat die huidige groep matrikulante akademiese leemtes ervaar in werk wat nie ten volle in graad 11 gedek kon word nie. Uitdagings bied gewoonlik die geleentheid om alles in jou vermoë te doen om dit te oorbrug. Dit bring ’n eiesoortige motivering wat leerders in staat stel om hulself te wil bewys, ongeag die struikelblokke wat die pandemie meebring.”Ursula sê matrikulante moet die pandemie gebruik om hulself te dryf om meer as net die minimum te bereik. “Nie net sal die klas van 2021 onthou word as die klas wat deur moeilike omstandighede hul matriekjaar moes voltooi nie, maar ook as die klas wat die grootste universiteitstoelatingsyfer bereik het.”

Adéle Poggenpoel (53)

Ade´le Poggenpoel
Ade´le Poggenpoel

Adéle onderrig Afrikaans by Crestway Hoërskool in Retreat en is al vir die afgelope 18 jaar in die onderwys. Dié onnie vertel die tweede jaar van die pandemie is beslis meer uitdagend as die eerste een. “Ons sukkel met die kurrikulum. Jy kan sien dat daar aspekte is wat die leerders nie goed verstaan nie. Die werk word gedoen, maar met baie meer moeite as gewoonlik.”Sy sê dat die graad 12-leerders ook meer onderrig moet word. “Die tydelike rooster van 2020 en die afgewaterde assessering het veroorsaak dat leerders nie so goed voorbereid is soos vorige jare nie. Onthou, alle leerders kon nie aangaan asof daar nie ’n pandemie is nie. Data en aanlyn werk was en is steeds ’n uitdaging vir baie gemeenskappe.”Leerders sukkel veral met taalaspekte waar dit Afrikaans betref. “Dit is iets waarmee ’n mens gewoonlik vroeër in hul hoërskoolloopbaan sukkel. Hierdie jaar moet ek dit ook onderrig in graad 12 . Ander jare werk ons net deur vraestelle vir hersiening. Matrieks moet leer om hul werk te organiseer (boeke). Daar is drie vraestelle vir die tale, so hou jou werk bymekaar. Begin voorberei. Maak seker jy verstaan jou werk.”Haar raad aan matrieks is as volg: “Almal moet voorberei, selfs ons as onderwysers. Leer vir elke vraestel met die doel dat jy goeie punte wil behaal. Doen oefeninge om kalm te bly en omring jouself met mense wat ook hoogtes wil bereik!” 

Carmelita Titus (52)

Carmelita Titus
Carmelita Titus

Dié onderwyser vier vanjaar haar dertigste jaar in die onderwys en werk tans by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Sy bied Besigheidstudies en Wiskundige Geletterdheid aan. Carmelita sê die grootste uitdaging is tyd. “Tyd bly die grootste uitdaging omdat ons ’n sillabus moet voltooi, maar ook leerders gereed kry vir die eksamen. As onderwyser moet jy elke dag deeglik beplan omdat ons tyd beperk is. Ek motiveer my leerders elke dag om gebruik te maak van elke oomblik weens die onsekerheid wat Covid-19 geskep het.”Volgens haar word daar ook nie voorsiening gemaak as ’n onderwyser moet isoleer nie. “Ek het nie ’n keuse as om op ’n Saterdag klas te gee nie. Die ekstra Saterdagklasse word gedoen uit vrye wil met geen addisionele geldelike vergoeding nie. Gedurende die lockdown kan ek ook nie al my leerders bereik nie, maar stuur video’s en notas op die WhatsApp-groep. Ek moet steeds wéér die werk verduidelik wanneer ons terugkeer.”Carmelita sê matrikulante moet onthou dat ’n leerder in matriek nie vrye tyd het nie, veral nie naweke nie. “If you fail to plan, you plan to fail. Ek help graag met die opstel van ’n studierooster. Gedurende die lockdown stuur ek elke oggend vir hulle ’n motiverende boodskap saam met die werk wat hulle moet dek, en eindig die dag met: ‘Use your time wisely and add value to your life today’.”

Vanessa Erasmus (31)

Vanessa Erasmus
Vanessa Erasmus

Vanessa is ’n Lewenswetenskappe-onnie en hou sedert 2013 skool by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Sy vertel trots dat sy amper nege jaar in die onderwys is. Vanessa is van mening dat vanjaar net nie ophou met sy verrassings nie. “Ons skoolprogram moes heeltemal aangepas word, veral om die sosiale afstand in klasse te behou. Dit veroorsaak dat matriekleerders oor twee dae een les ontvang, want hulle is te veel om almal op een dag te kom.”Sy verduidelik: “Dit is verskriklik moeilik omdat die tyd min is. Lewenswetenskappe kry agt periodes in ’n tiendagsiklus. Een dag van die siklus loop oor twee dae dus vat dit ’n maand (20 dae) om agt periodes te kry met my leerders. Ons panic! Die tyd is te min. Ons sien nie ons leerders nie. Die skool word onverwags toegemaak. Onderwerpe moet nog gedoen word. Assesserings moet nog plaasvind. Ons het te min tyd en te veel om te doen. Jy is so besig om die kurrikulum af te handel dat jy nie by die nitty-gritty kan uitkom nie.”Sy laat matriekleerders met dié woorde: “Beplan jou tyd en wees georganiseerd. Daar is niks so lekker as om weg te stap van ’n eksamen en te weet jy het jou heel beste gegee nie. Jy kan dit doen – glo in jouself!”

Marina Nutt (56)

Marina Nutt
Marina Nutt

Marina het meer as 30 jaar onderwyservaring, is ’n onderwyser by Wesbank Sekondêre Skool op Malmesbury en werksaam in die handeldepartement. “Die tweede jaar is baie ontwrigtend. Ons het gesukkel om die sillabus af te handel en leerders was nie gemotiveerd nie. Daar was nie tyd vir vaslegging nie. Leerders het agterstande omdat hulle ’n aangepaste sillabus in 2020 gevolg het. Hulle het eenvoudig nie die dryfkrag om goed te presteer nie. Weereens probeer onderwysers om die sillabus so gou moontlik af handel, maar die bedreiging van siek word of geliefdes siek maak, het ’n groot sielkundige effek op onderwysers.”Volgens Marina sukkel leerders om gefokus te bly as gevolg van wat in hul gemeenskappe gebeur. “Leerders se ingesteldheid is nie altyd na wense nie. Ek moet dikwels beplan om graad 11-werk te doen as basis vir die graad 12-lesse omdat leerders hierdie gedeeltes nie verlede jaar kon voltooi nie. Omstandighede vereis dat leerders meer self werksaam moet wees. Hul eksamenvaardighede skiet tekort omdat hulle nie verlede jaar volledige eksamen geskryf het nie.”Haar wenke aan leerders wat toppunte wil behaal, is die volgende: “Tydbestuur is verskriklik belangrik. Stel ’n studierooster op en wees konsekwent. Begin ook vroeg voorberei vir eksamens en gebruik gratis studiegidse. Bly positief. Gaan stap buite. Vars lug help jou leer! Aanhouers wen.”

Damian Magerman (28)

Damian Magerman
Damian Magerman

Damian het sewe jaar onderwyservaring en bied tans English Home Language en English First Additional Language aan by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Dié meneer sê prontuit dat vanjaar moeiliker is as 2020, veral met betrekking tot sy vakke. “Die huidige leerders beskik nie oor die nodige kennis en vaardigheid nie en daarom vind hulle dit moeilik om literatuurinhoud te interpreteer.”Die grootste faktor is tyd, meen Damian. “Dieselfde tyd word toegewys vir die lewering en dekking van die kurrikulum, maar ’n les wat aanvanklik een periode sou neem, neem nou twee periodes, en dit beïnvloed die voltooiing van die inhoud. Leerders sukkel baie met die begrip en interpretasie van letterkunde, veral Shakespeare.”Damian sê oefening is al wat matrikulante gaan en kan help. “Oefen, oefen, oefen. En lees! Dit sal jou in staat stel om baie beter te doen as wat jy verwag. Werk deur vorige vraestelle, lees jou voorgeskrewe boeke, verstaan die inhoud en gaan die ekstra myl. Dit sál die moeite werd wees.”

Wade Erasmus (33)

Wade Erasmus
Wade Erasmus

Dié Fisiese Wetenskappe-onderwyser is al vir die afgelope ses jaar in die onderwys. Hy is ’n onderwyser by die Hoër Tegniese Skool Bellville. Hy sê die jaar 2021 is uitdagend vir beide leerders en onderwysers. “Ek dink die moeilikste uitdaging vir die onderwysers is om die beste benadering te vind vir hoe om al die information communication technology tools te integreer om leerders die voordeel te gee. Daar is soveel ‘best practices’ en dus moeilik, want jy moet vir jou leerders en die skool ’n benadering vind wat werk.”Dit is veral die onderrig van inhoud in Fisiese Wetenskappe wat vir Wade ’n groot bron van kommer is. “In wetenskap is dit ideaal om konsepte volledig te kan onderrig. Oor die algemeen gaan wiskunde en wetenskap gepaard, en as gevolg van hierdie feit vind leerders my vakgebied moeilik. Boonop is leerders nie gemaklik om met so baie bronne van informasie te kan werk nie.”Sy raad aan matrieks is om nie met te veel bronne te werk nie. “Werk eerder met een of twee kernbronne en bemeester die konsepte. Ken jou sterk- en swakpunte en werk daarvolgens. Pas jou studiemetodes aan om jou te pas en beplan, beplan, beplan.”

Sonia Cupido (54)

Sonia Cupido
Sonia Cupido

Sonia is ’n onderwyser by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein en haar vakgebied is Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele taal (graad 10 tot 12). Dié juffrou met 32 jaar onderrigervaring sê die tweede jaar van die pandemie is frustrerend en uitputtend. “Dit is uiters ongemaklik om met maskers lesse aan te bied. Dit strem kommunikasie. Ons praat net die nodige, want dit is ’n groot aanpassing en verg baie energie en inspanning. Die gesondheidsrisiko is altyd in jou agterkop. Dit is ook tydrowend om leerders en banke periode ná periode te ontsmet. Leerders moes dikwels herinner word om maskers oor hul neus en mond te hou.”Sy vertel selfs die leerders is anders “Hulle gesels nie vryelik nie. Leerders is nie gemotiveerd nie en sukkel om te fokus. In my vak sukkel hulle veral met kommunikasievaardighede, woordeskat en veral hul spelling is kommerwekkend. Ons werkslading is dieselfde en die tyd minder. Tog moet jy onder hierdie omstandighede probeer om alles te dek. ’n Onmoontlike taak, maar ons probeer baie hard. Daar is ’n groot agterstand, betreffende alle graadgroepe. Dis senutergend.”Sonia sê egter optimisties dat leerders positief moet bly ongeag dié omstandighede. “Verander jou houding. Doen ekstra aangesien die kontaktyd so beperk is. Maak seker jy verstaan jou werk en doen elke dag jou deel om deur die vorige dag se lesse te gaan. Moenie te veel druk op jouself plaas nie, want jy kan dan knak. Wees kalm. Dis jou toekoms. Harde werk lei tot sommer baie selfvertroue.”

Priscilla-Ann Theron (51)

Priscilla-Ann Theron
Priscilla-Ann Theron

Dit is Priscilla-Ann se eerste jaar as deel van die Kuier Rapport Matriekklas en sy bied die skryflesse aan. Die skryflesse is ’n nuwe komponent wat bygevoeg is, want baie onderwysers het al agtergekom dat leerders nie samehangend kan skryf nie. Priscilla-Ann het 27 jaar ondervinding in die onderwys en is die departementshoof vir Afrikaans by Uitsig Primêre Skool. Sy doseer aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Metodiek van Afrikaans en Afrikaanskommunikasie) en die merk die vak Akademiese Skryf. Sy is bekend met hoe eerstejaarstudente aan universiteite skryf. “Studente kan nie onderskei tussen die verskillende genres nie. Hulle sukkel met die interpretasie van vrae en met die skryf van opstelle. Wat ek agterkom, is dat die stelsel so klem lê op lees dat onderwysers skryf taamlik afskeep. Die kurrikulum verwag ’n teksgebaseerde benadering, maar leerders is nie baie vertroud daarmee nie.”Volgens Priscilla-Ann is dit baie belangrik om te onthou om leerders nie net akademies voor te berei nie, maar ook vir die alledaagse lewe. “Onthou, ons moet leerders voorberei, nie net vir skryf op tersiêre vlak nie, maar skryf in die alledaagse lewe. Skryfvaardighede is baie belangrik, veral in die wêreld van werk. Leerders besef nie aldag die belangrikheid daarvan en hoe dit kan bydra tot jou groei en bevordering ná jou studies nie.”

besig om te laai... Regstreeks
Knights 12/0
Titans 519/9
besig om te laai... Regstreeks
Western Province 315/10
Lions 194/3
besig om te laai... Regstreeks
Boland 485/7
North West 162/8
besig om te laai... Regstreeks
Dolphins 146/2
Warriors 386/10
besig om te laai... Regstreeks
Mpumalanga 224/10
Easterns 293/5
besig om te laai... Regstreeks
Limpopo 227/10 & 34/6
South Western Districts 245/10
besig om te laai... Regstreeks
Border 86/10 & 57/2
Northern Cape 525/5
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.66
-1.2%
Rand - Pond
21.00
-1.4%
Rand - Euro
17.48
-1.3%
Rand - Aus dollar
10.96
-0.7%
Rand - Jen
0.14
-1.4%
Goud
1,785.82
-0.7%
Silwer
22.41
-1.6%
Palladium
2,328.00
-2.0%
Platinum
1,003.50
-2.2%
Brent-ruolie
89.34
-0.7%
Top-40
67,021
-0.1%
Alle aandele
73,455
-0.1%
Hulpbronne 10
74,081
-1.4%
Industriële 25
90,993
+0.6%
Finansiële 15
15,218
+1.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos