Vir die tweede opeenvolgende week verdedig Luc van der Veen (16) Maandagaand sy titel as Blitsbrein Junior.
Dit was verlede week so hittete of Luc is deur Henko Kruger (14) van die Hoër Jongenskool Paarl geklop. In die laaste ronde het Luc egter nét genoeg punte gekry om as wenner deur te skuur.
VIA se vasvraprogram Blitsbrein trek in 2020 ’n jonger baadjie aan. Dit is dié keer tyd vir die tieners om mekaar die stryd aan te sê.
’n Nuwe episode word elke Maandag om 18:00 op VIA uitgesaai met Pietie Beyers as aanbieder. Die leerlinge wat aan dié seisoen deelneem, is almal hoërskoolleerlinge (tussen gr. 8 en g. 11) wat in 2019 aan Netwerk24 se algemenekennis-kompetisie Blitsbrein Junior deelgeneem het. Dié kompetisie is saam met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied.
Vandeesweek kom Luc teen Solomon Lithlakanyane van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein en Dominic Warkus van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas te staan.
“Hulle sê groot gif kom in klein pakkies en ek dink dis baie waar as dit by my twee teenstanders kom,” het Dominic oor Luc en Solomon gesê, wat albei ’n paar koppe korter as hy is.
Luc sal veral vir Solomon moet dophou. Dié gr. 10-leerling het al in die laerskool uitgeblink in ’n algemenekennis-kompetisie toe hy die derde plek in die Vrystaat vir die Wêreldkennis Olimpiade behaal het.
Solomon het ook verlede jaar die eerste plek in die Vrystaat behaal in Netwerk24 se algemene kompetisie Blitsbrein Junior in die afdeling vir gr. 10- tot gr. 11-leerlinge.
Dominic Warkus het die sewende posisie in die Wes-Kaap vir dieselfde kompetisie in dieselfde afdeling behaal.
“Ek het nie regtig ’n game plan vir dié een nie,” het Solomon voor die opname gesê. “Dit is my heel eerste keer hier en ek hoop net ek doen my bes.”
Só werk Blitsbrein Junior
Die wenner van elke episode ontvang die titel van Blitsbrein Junior en gaan dan outomaties deur na die volgende episode, waar die titel teen twee nuwe deelnemers verdedig word.
Die ses deelnemers met die meeste punte op die telbord aan die einde van die tiende episode dring tot die halfeindronde deur, waarna die topdrie in die eindronde teen mekaar te staan kom.
Die algehele pryspot is R45 000. Dit word deur die top 3 wenners verdeel.
Het jy die vorige episodes van ‘Blitsbrein’ misgeloop?
- Klik hier om episode 1 en 2 op NW24TV te kyk.
- Episode 3 is op 20 Januarie om 18:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.
- Episode 3 sal ook van 21 Januarie op Netwerk24 onder NW24TV te sien wees.
- Speel ook elke Dinsdag op Netwerk24 saam om te kyk hoeveel vrae van die episode jy kan reg beantwoord.