Verskeie private skole waar leerlinge die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen afgelê het, het rede om breed te glimlag.
“Aan die matrieks van 2021: Julle het gewys dat julle ondanks onsekerheid en in moeilike omstandighede uitdagings die hoof kan bied. Deur jul veerkragtigheid het julle resultate behaal waarop julle werklik trots kan wees. Welgedaan, matrieks van 2021,” sê Reinhard de Klerk, hoof van die Crawford International College in Lonehill, Johannesburg.
Die kollege het in 2021 110 matriekleerlinge gehad wat almal geslaag het en van wie 94% universiteitsvrystelling het. Nege leerlinge spog met agt onderskeidings elk, sewe leerlinge het elk sewe onderskeidings behaal en vier het ses onderskeidings gekry.