Die nasionale matriekslaagsyfer vir 2021 is 76,4% – 0,2 persentasiepunt meer as 2020 se 76,2%. Dit is Donderdag deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in Auckland Park in Johannesburg bekend gemaak.
“Daar is geen twyfel nie dat die onderwysstelsel besig is om die gewenste stabiliteit te bereik, wat gesond is vir ’n groot stelsel soos ons s’n. Die klas van 2021 is erg geraak deur die Covid-19-pandemie, die ergste pandemie in ons geskiedenis. Die veerkragtigheid wat ons skoolgemeenskap teen die pandemie gewys het, kan ook nie ongesiens verbygaan nie,” het Motshekga ná die bekendmaking van die nasionale matriekslaagsyfer gesê.
Op provinsiale vlak het die Vrystaat met die hoogste slaagsyfer in die land van 85,7% stof in al die ander provinsies se oë geskop.