“Die land se hoop, drome en verwagtinge rus op jul skouers. Julle moet nou ’n verskil in die land maak.”
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag die land se topmatrikulante op ’n spesiale ontbytgeleentheid in die Houghton Hotel in Johannesburg met hierdie woorde aangemoedig.
“Die klas van 2021 is enig in hul soort. Hulle is deur die ergste van die pandemie en moes ’n eksamen skryf wat drie jaar gelede opgestel is voordat Covid-19 ons getref het. Ons vereer julle met hierdie ontbyt. Van die byna 800 000 leerlinge wat die eksamen afgelê het, is julle die 30 bestes,” het sy aan die leerlinge gesê.