Terwyl hul landgenote tans in Mauritius diens doen by die Afrika-atletiekkampioenskappe, het Luxolo Adams en Emile Erasmus Donderdagaand in Rome, Italië, hul slag gewys in die Diamantliga-reeks.
Hoewel Adams se wedloop nie Diamantliga-status geniet het nie, het hy vir die tweede byeenkoms agtereenvolgens naasbeste in die 200 m geëindig met die Amerikaner Kenneth Bednarek wat in albei gevalle die pyp gerook het. Hulle was Sondag in Rabat ook slaags.
Die Suid-Afrikaner het ’n tyd van 20.33 sekondes aangeteken, met Bednarek wat ’n nuwe seisoenbeste opgestel het en net-net nie deur die 20 sekonde-grens kon bars nie. Sy tyd was 20.01. Die Italianer Filippo Tortu was derde in 20.40.