Net meer as twee weke voordat die eerste skote by die Wêreldkampioenskap klap, kry Akani Simbine die geleentheid om sy spiere te bult teen niemand anders nie as die Olimpiese kampioen oor 100 m.
Die voormalige Afrika-rekordhouer sal in Swede die eerste keer sedert verlede jaar se Olimpiese Spele in Tokio teen die Italianer Lamont Marcell Jacobs te staan kom wanneer hy Donderdagaand in Stockholm, Swede, in die blokke sak. Dit is die agtste ronde van die Diamantliga-reeks en ook die laaste een voor die Wêreldbyeenkoms en die Statebondspele.
Die Italiaanse blits het verlede jaar die wêreld verstom toe hy as die 100-kampioen in Tokio gekroon is, maar het sedertdien nog bitter min deelgeneem. Net soos Simbine, moet Jacobs nog ’n wettige tyd van onder 10 sekondes vanjaar aanteken.