Die medaljes (een goud, vier silwer, vyf brons) het Donderdag verder ingerol vir Suid-Afrika in Mauritius, waar Werner Visser as die Afrika-kampioen in die diskusgooi weggestap het en Victor Hogan boonop die silwermedalje in dieselfde nommer verower het.
Met sy laaste gooi van die kompetisie het Visser die maatband tot 61,80 m laat rek, maar die eerste plek was toe reeds verseker nadat hy in die derde ronde reeds die enigste deelnemer was wat met sy poging van 60,42 m deur die 60 m-grens gebars het.
Op sy beurt het Hogan in die vyfde ronde sy beste gooi van 58,95 m behaal, en hiermee verseker dat Namibië se Ryan Williams met die bronsmedalje tevrede moes wees. Sy beste afstand was 56,70 m.