Die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskap begin oor net meer as ’n maand en as daar een ding is wat ’n atleet nie nou wil hê nie, is dit om die gevaarligte te laat flikker rondom die moontlike gebruik van verbode middels.
Dis egter presies wat die geval is vir die Amerikaner Christian Coleman, wat tans die vinnigste atleet in die wêreld is in die 100 m.
Coleman het die afgelope week skokgolwe uitgestuur toe nuus gebreek het dat die IAAF op sy spoor is nadat hy drie agtereenvolgende toetse vir die gebruik van verbode middels misgeloop het.