Burundi se Francine Niyonsaba het Dinsdagaand haar tweede groot oomblik binne minder as ’n week gehad, toe sy ’n nuwe wêreldrekord in die 2 000 m opgestel het.
Ses dae nadat sy die Diamantliga-kroon oor 5 000 m verower het, het Niyonsaba die 2 000 in Zagreb in ’n tyd van vyf minute en 21.56 sekondes voltooi. Dit het van haar die eerste DSD-atleet (vroue met ’n buitengewoon hoë testosteroonvlak) gemaak om ’n wêreldrekord te breek.
Teen die halfpadmerk van dié ongewone item (wat die Burundi-atleet in 2:41.37 bereik het), was Niyonsaba en Ethiopië se Freweyni Hailu albei op koers om Genzebe Dibaba se bestaande rekord van 5:23.75 te verbeter. Dibaba het haar rekord in 2017 opgestel.