In gholf is daar instruksie-uitdrukkings wat omtrent net so oud is soos die sandkuile op linksbane soos St. Andrews en Muirfield. Soos: Hou jou kop af! Bly agter die bal! En op die setperke: Hou jou kop en jou lyf doodstil!
Dit was vir my gevolglik ’n openbaring toe ek onlangs ’n artikel gelees het oor die Amerikaanse gholfspeler Jackie Burke jnr. en hoe hy verduidelik dat een van die beste sethou-spelers van alle tye, die Suid-Afrikaner Bobby Locke, sy lyf gebruik het om die bal op die setperke aan die rol te kry.
Burke, wat eerskomende Sondag sy 100ste verjaardag sal vier, het in 1956 die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta gewen, asook 16 toernooie in die Amerikaanse PGA-reeks.