Toe Louis Oosthuizen in Mei verlede jaar onthul het hy gaan hom by die LIV-reeks aansluit, was hy 18de op die wêreldranglys en een van die groot name van die spel.
Wanneer die jongste ranglys komende Maandag uitgestuur word, sal Oosthuizen, vanweë sy deelname aan dié omstrede, maar uiters aanloklike rebellereeks, die eerste keer sedert 2008 nie meer onder die voorste 100 spelers in wêreldgholf tel nie.
Oosthuizen, die Britse Ope-kampioen in 2010, was in ’n stadium vierde op dié ranglys, maar hy bevind hom nou in die wildernis.