Drie lede van Nieu-Seeland se toergroep is ure voor die geskeduleerde begin van ’n opwarmingswedstryd teen die Engelse graafskap Sussex positief getoets vir die koronavirus.
Die Nieu-Seelandse Krieketraad het bevestig dat die spelers Henry Nicholls en Blair Tickner, asook die boulafrigter, Shane Jurgensen, die koronavirus onder lede het.
Dié drietal sal die volgende vyf dae in hul hotelkamers isoleer. Die res van die Nieu-Seelandse toergroep is egter negatief getoets en die kragmeting met Sussex is derhalwe nie gekanselleer nie.