Ná ’n maand van pyn, woede en frustrasie, was daar Donderdag uiteindelik weer ’n sprankie hoop vir Sisanda Magala.
Dié Protea-bouler het verlede maand se T20-uitdaagreeks in Potchefstroom misgeloop omdat hy nie aan Krieket Suid-Afrika (KSA) se fiksheidstandaarde kon voldoen nie. Donderdag het hy uiteindelik die fiksheidstoets geslaag, en is in die Lions se elftal vir hul vierdagwedstryd teen die Dragons in Potch ingesluit.
Die woorde Magala en fiksheidsprobleme het die laaste paar jaar sinoniem geword. Hy was die laaste paar maande weer in die nuus ná KSA se besluit om hul fiksheidstandaarde op provinsiale vlak ook rigied toe te pas. Spelers moet ’n tydtoets van 2 km in minder as 8 minute en 30 sekondes aflê om verkiesbaar te wees. Magala het die toets voor die T20-uitdaagreeks in 8:42 afgelê en moes dus uitsit.