Sri Lanka het hom by Suid-Afrika, Australië, Barbados, Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Pakistan aangesluit in die eerste groot sportbyeenkoms wat meer medaljes aan vroue as mans gaan uitdeel.
Krieket is die eerste sportsoort wat sy volledige lys spanne vir die Statebondspele in Birmingham aangekondig het nadat Sri Lanka as die agtste span bevestig is in die T20-toernooi vir vroue.
Dié aankondiging is Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring deur die Internasionale Krieketraad (IKR) en die Statebondspele-federasie (CGF) gemaak. Dit was ná afloop van Sri Lanka se oorwinning in sy kwalifiserende Statebondspele-wedstryd in Kuala Lumpur verlede week en die daaropvolgende bevestiging van sy insluiting.