Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé sal op aanbeveling van Krieket Suid-Afrika (KSA) se mediese paneel nie in vandeesweek se laaste ronde van die plaaslike meerdagreeks vir die Warriors te sien wees nie.
Die Warriors, met 72.68 punte, speel van Dinsdag af in die Baai teen die Dolphins en het ’n buitekans om hul groepvoorlopers, die Titans (86.84), verby te steek.
Nortjé (27) het verlede week op Nuweland 28 boulbeurte in twee dae in die Cape Cobras se eerste beurt geboul nadat sy aanvangsmaat, Glenton Stuurman, vroeg op die eerste dag ’n dyspierbesering opgedoen het. Stuurman is ná die derde bal van sy sesde boulbeurt van die veld af.