Die Protea-vrouekrieketspeler Dané van Niekerk is Sondag vir ’n nulletjie uitgehaal in ’n provinsiale T20-wedstryd tussen die Suidwestelike Distrikte en die Lions in Oudtshoorn.
Van Niekerk is die afgelope week op omstrede wyse nie vir Suid-Afrika se 15-tal vir die T20-Wêreldbeker-toernooi oorweeg nie, omdat sy nie aan die vereiste fiksheid-standaard voldoen het nie. Dié skouspel word van Vrydag af op tuisbodem beslis.
Die 29-jarige Van Niekerk, een van die wêreld se voorste veelsydige spelers, is Sondag met die vierde bal wat sy ontvang het, skoongeboul deur Yolani Fourie. Van Niekerk en Mieke de Ridder (1, 5 balle) was SWD se aanvangskolwers.