Die vlakke van angs by Krieket Suid-Afrika (KSA) oor die beplande Indiese toer na die land sou Woensdag verder gestyg het ná die jongste nuus uit Indië.
The Times of India berig dat die Indiese Krieketbeheerraad (BCCI) die aankondiging van sy toergroep na Suid-Afrika op ys geplaas het. Die beheerliggaam wag glo op goedkeuring van die Indiese regering om met die toer voort te gaan nadat die Omikron-variant van die koronavirus in Suid-Afrika geïdentifiseer is.
Die beplande toer van drie toetse, drie eendagwedstryde en vier T20-wedstryde is van kritieke belang vir KSA. As dit nie voortgaan nie, kan dit verreikende finansiële gevolge vir die spel in die land inhou.