Die spelers is nie gevra of enigsins ’n keuse daaroor gegee nie, sê David Miller, wat die begin van die Indiese Premierliga (IPL) gaan misloop weens die Proteas se twee belangrike eendagwedstryde teen Nederland.
Hulle kan op 31 Maart en 2 April teen Nederland in Benoni outomaties vir die Wêreldbeker-toernooi in Indië kwalifiseer. As hulle dit nie regkry nie, is ’n kwalifiseringstoernooi in die winter in Zimbabwe hul laaste kans om nog te kwalifiseer.
Op ’n vraag hoe die Gujarat Titans voel daaroor dat hy die begin van die IPL gaan misloop en of hulle hom gevra om sy beskikbaarheid te heroorweeg, het Miller (33) gesê hy “veronderstel hulle was regtig ontsteld”.