Aanhoudende reën in Delhi het Sondag die vyfde en laaste T20-wedstryd tussen Indië en Suid-Afrika in die wiele gery.
Die wedstryd het laat begin en het slegs twee boulbeurte geduur voordat die reën uiteindelik gewen het.
Indië het blitsvinnig weggetrek en Ishan Kishan het altesame 16 lopies in die eerste boulbeurt van Keshav Maharaj gemoker.
Lungi Ngidi het egter in die volgende boulbeurt van Kishan én Ruturaj Gaikwad ontslae geraak met uitstekende stadiger balle.
Die wedstryd is dus afgelas en die reeks het met 2-2 gelykop geëindig,
Suid-Afrika het sy ondersteuners se hoop laat opvlam toe hy die eerste twee wedstryde oortuigend gewen het.
Hy het egter in die volgende twee wedstryde sleg kleigetrap en verloor.
Mark Boucher, Suid-Afrika se afrigter, het gesê hy is heel tevrede met dié uitslag.
“Ons het soms baie goeie krieket gespeel, maar soms gesukkel. Dit is te verstane; dit is nie maklik om in Indië te toer nie.
“Verskeie van ons spelers het wel in die Indiese Premierliga gespeel en was dus gewoond aan die Indiese toestande.
“Aan die ander kant kon ’n mens ook sien dat van hulle moeg is,” het Boucher gesê.
Volgens hom is die een gebied waaraan die Proteas aandag kan gee, die toporde.
“Die verlies van Aiden Markram was ’n groot terugslag vir ons.
“Die plan was dat hy ons sesde kolwer sou wees. Toe hy nie beskikbaar was nie, het dit ons balans versteur.”
Boucher sê hy besef dit was nie Indië se beste span nie, maar dit was nogtans ’n baie sterk span.
“Dit wys die ongelooflike diepte van Indiese krieket en dit het te make met die IPL,” sê Boucher.
“Die boulers was by tye wisselvallig. Dié wat nie moeg is nie, het nie baie speelkans in die IPL gekry nie en dit is moeilik om met so min oefening op jou beste te wees.”
• Telkaart