Die Proteas se vertonings die laaste seisoen of wat het baie ondersteuners in sak en as gelaat, maar een van Suid-Afrika se mees ervare afrigters glo daar is oorgenoeg rede om optimisties oor die toekoms te wees.
Vincent Barnes, Krieket Suid-Afrika se hoëprestasie-bestuurder, sê hy is veral opgewonde oor die groep blits- en naatboulers wat daar in Suid-Afrikaanse krieket is.
Veterane soos Dale Steyn, Morné Morkel en Vernon Philander, wat die afgelope dekade die ruggraat van die Proteas gevorm het, het almal nou hul internasionale stewels opgehang (hoewel Steyn nog beskikbaar is in die T20-formaat).