Krieket Suid-Afrika (KSA) het ’n pleidooi aan die SA20-organiseerders gerig om hulle meer erkenning vir die sukses van dié liga te gee.
Die versoek is vervat in ’n e-pos van die KSA-raad aan Graeme Smith, die SA20-ligakommissaris, verneem Rapport. KSA het glo selfs voorstelle gemaak oor hoe hulle meer krediet gegee kan word.
Sedertdien het ’n onderhoud met KSA se raadsvoorsitter, Lawson Naidoo – geklee in ’n SA20-hemp en -hoedjie op sy kop – op die SA20-Twitterprofiel verskyn. KSA word ook nou ná wedstryde bedank wanneer die televisie-kommentators onderhoude met die kapteins voer.