Sommerso sonder seremonie het Graeme Smith se termyn as Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket die afgelope week tot ’n einde gekom.
Ná al die nonsens wat hy in sy termyn moes verduur, het hy seker ’n bottel vonkelwyn se prop geskiet. Van KSA se kant af was daar nie eens ’n “Dankie vir jou diens, Graeme,”-verklaring nie.
Waarskynlik omdat die beheerliggaam en Smith in ’n arbitrasiesaak gewikkel is. Die uitspraak van dié saak word binne die volgende twee weke verwag en sal aan die publiek beskikbaar gestel word.