Engeland se krieketspan het Dinsdag sy veldtog vir ’n plek in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi ’n reusehupstoot gegee deur Nieu-Seeland sy eerste nederlaag toe te dien.
Engeland se oorwinning met 20 lopies beteken die voorste drie spanne in Groep 1, Nieu-Seeland, Engeland en Australië, het almal vyf punte met die netto lopietempo wat uiteindelik die bepalende faktor kan wees.
Nieu-Seeland (2.233) gee desondanks dié nederlaag steeds die pas aan in Groep 1, met Engeland (0.547) tweede en Australië (-0.304) in die derde plek. Sri Lanka (vier ligapunte) is self nog ’n buiteperd in die wedloop om die twee halfeindplekke.