Die Engelse snelbouler Mark Wood, wat Saterdag die vinnigste gemiddelde spoed in ’n boulskof in T20-Wêreldbeker-geskiedenis afgestuur het, sê hy kan nóg haastiger boul.
Wood het kartetse so vinnig soos 154 km/h afgestuur in Engeland se Super12-oorwinning oor Afganistan en het ’n gemiddelde spoed van 149 km/h gehandhaaf.
Sy blitsballe was een te veel vir Afganistan. Hy het van die aanvangskolwer Rahmanullah Gurbaz en kaptein, Mohammad Nabi, ontslae geraak onderweg na ’n boulontleding van 2/23. Afganistan is uiteindelik tot ’n skamele 112 lopies beperk, waarna Engeland die wenteiken met vyf paaltjies plat bereik het.