Die Westelike Provinsie is die vroeë pasaangeër in die T20-uitdaagreeks nadat hy Woensdag sy tweede agtervolgende sege in Gqeberha behaal het.
Die Kaapse span het die Warriors met sewe paaltjies op St. Georgepark geklop nadat Richard Levi in die kragspel in ’n verwoestende luim was. Die eerste vier boulbeurte het met hom daar onderskeidelik 12, 14, 15 en 17 lopies (altesaam 58) opgelewer.
Die Kapenaars is gevra om 164 vir ’n oorwinning aan te teken. Ná Levi (40 van 17 balle, 5x4;3x6) se aanslag is die teiken na amper ’n lopie per bal (106 van 96 balle) verminder. Hy het goeie ondersteuning van Jonathan Bird (39) gekry. Hulle het ’n aanvangsvennootskap van 63 lopies in net 28 balle gedeel.