Dis seker maar die ouderdom, maar ek en sosiale media sal altyd net kennisse bly. Die wêreld hoef nie te weet wat my geestestoestand is of te sien hoe ek my braairooster pak nie.
Met elke omgang met sosiale media loop jy boonop die gevaar om jou naam krater te maak – soos die geval is met die vervaardiger en akteurs in ’n video oor “bekeerde” Stormers-ondersteuners wat verlede week op die Blou Bulle se amptelike Twitter-rekening uitgestuur is.
Vir diegene wat dit nie gesien het nie, dit begin met ’n “bekeerde” Stormers-ondersteuner in 'n donker kamer. Vir jare het hy ’n “leuen geleef”. Die volgende een “kon nie meer na haarself in die spieël kyk” nie. Daarna sê een hy voel hopeloos en het “niks meer om voor te leef nie”. Die vernedering het “onhoudbaar” geraak, word ons vertel.