Só goed as wat dit met die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) gaan, so sleg gaan dit met die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks.
Die Stormers het een van hul laaste 12 wedstryde verloor, terwyl die WP tot dusver net een uit agt kragmetings in sy veldtog gewen het.
Terwyl daar versagtende omstandighede is, behoort hierdie generasie Streeptruie te besef dat dit die swakste poging deur ’n WP-span in die beroepsera is. Dit gaan selfs slegter as in 1999 toe die WP 11de uit 14 spanne op die puntelys geëindig het ná ’n veldtog waarin hy vyf wedstryde gewen, in een gelykop gespeel en sewe verloor het. Daardie jaar kon ter versagting gesê word dat tien uit die 30 spelers in Suid-Afrika se groep vir die Wêreldbeker-toernooi uit die WP was en gevolglik nie in die CB-reeks kon speel nie. Vanjaar kan gesê word dat Jerome Paarwater, die WP se afrigter, by tye (veral onder die vaste voorspelers) krummels tot sy beskikking gehad het. Die vaste fasette – veral die skrums – was sover ’n groot probleemgebied.