Met die groot inploffing van krieket in 2018 en 2019 het mense gedurig vir my gevra wat aan die gebeur is met die sport wat ons so lief het? Dit was nogal ’n moeilike vraag om te beantwoord, omdat jy nooit geweet het waar om te begin nie. Hoeveel agtergrondkennis het ’n mens? En hoe dik moet jy die pap aanmaak in jou ontleding?
Om ’n verteerbare antwoord te gee, wou ek die krieketpubliek nie verveel met die konsep van fidusiêre pligte nie – so ek het maar besluit op iets waarmee mense hul kon assosieer. Ek het Suid-Afrika met ’n welbekende Hollywood-moewie, soos The Truman Show of Groundhog Day, vergelyk en mense se gesigte het opgehelder toe ek die vergelyking voorhou.
Albei flieks gaan van die veronderstelling uit dat hoe meer die lewe verander, hoe meer bly dit dieselfde. Krieket in Suid-Afrika lyk of dit die kreeftegang gaan, maar in werklikheid gaan dit maar in die rondte.