Die FIA, die beheerliggaam van Formule Een, beplan ’n nuwe bestuurstruktuur vir sy Grands Prix in ’n poging om die probleme wat by verlede jaar se wedren in Abu Dhabi ondervind is, te vermy.
Daar is diegene in F1 wat voel dat Michael Masi van Australië, die wedrendirekteur in Abu Dhabi, versuim het om die reëls korrek toe te pas.
Lewis Hamilton (Mercedes) het in die laaste wedren van 2021 voorgeloop voordat ’n omstrede beslissing deur Masi vir Max Verstappen (Red Bull) in staat gestel het om die Brit in die laaste rondte verby te steek en die wêreldtitel te beklink. Verstappen het Hamilton gevang nadat die veiligheidsmotor ontplooi is omdat die Kanadees Nicholas Latifi in ’n veiligheidsmuur vasgejaag het.