Mohammed ben Sulayem, president van motorsport se wêreldbeheerliggaam (FIA), beskryf Formule Een-renjaers as “die sterre van die vertoning”, maar waarsku hulle sal in die moeilikheid beland as hulle die verkeerde dinge sê.
The Telegraph berig renjaers sal volgens Ben Sulayem gestraf word indien hulle die sport as platform vir hul “private persoonlike agendas” gebruik.
Ben Sulayem het die media by die Dakar-veldtydren te woord gestaan nadat die FIA verlede maand nuwe reëls aangekondig het wat vereis dat renjaers vooraf toestemming moet vra indien hulle by wedrenne gebare wil maak wat verband hou met politiek of geloofsoortuigings.