Die Amerikaanse branderplankry-kampioen Kelly Slater sal nie toegelaat word om vanjaar in Australië aan byeenkomste deel te neem as hy hom nie teen die koronavirus laat inent nie.
So het Greg Hunt, Australië se federale minister van gesondheid, Donderdag gewaarsku.
Die inentingstatus van die 49-jarige Slater, ’n 11-malige wêreldkampioen wat steeds op die hoogste vlak meeding, is nie bekend nie, maar hy het in die bres getree vir Novak Djokovic nadat dié oningeënte tennisster Sondag uit Australië gedeporteer is.