Max Verstappen sê daar moet bietjie briek aangedraai word met al die praatjies in die media oor sy tweestryd met Lewis Hamilton om die wêreldtitel in vanjaar se Formule Een-reeks.
In 2021 se eerste drie wedrenne was albei dié jaers onder die toptwee. Verstappen (Red Bull) is slegs agt punte agter Hamilton (Mercedes) in die wedloop om die wêreldkampioenskap – nader as enige ander renjaer. Kenners glo nou die titel sal vanjaar deur een van hulle gewen word. Hamilton is die verdedigende kampioen en mik vir ’n ongeëwenaarde agtste wêreldtitel. Hy deel tans die rekord van sewe met Michael Schumacher.
Verstappen raak egter nie meegevoer met al die praatjies nie.